Namibiërs wag in spanning om te sien of ’n hewige tropiese storm vandeesweek nader aan Mosambiek se kusstad Beira sal land, wat klaarblyklik die beste kans op enige reënneerslae hier ná ’n droë Februarie en vroeë Maart sal bied.

Sikloon Freddy, wat aanvanklik verlede week sy stoom as ’n tropiese sikloon verloor het, het gister op sy 31ste bestaansdag wêreldrekords laat spat as die tropiese stelsel wat die langste op rekord aktief is en ook die verste gereis het – meer as 8 400 kilometer.

Dit sal na verwagting later vandeesweek opnuut op Mosambiek afstuur.

“Hoe nader aan Beira en hoe kragtiger die landing, hoe groter is die kans vir ’n sinvolle energieverplasing na Namibië en selfs op ’n westelike reis as ’n binnelandse depressie,” het LandWater gister op Facebook oor die sikloon se verwagte landing in Mosambiek verduidelik.

“Freddy mik om Vrydag of Saterdag in Mosambiek te land. Sou die reis weswaarts plaasvind, sal sy invloed in die week van 13 Maart na Zimbabwe, Zambië, Botswana, Angola en Namibië oorspoel,” het LandWater verduidelik.

Freddy, wat oor die afgelope maand ’n wesentlike invloed op die gebrek aan reën in Namibië uitgeoefen het, het gister steeds winde van sowat 110 km per uur gehandhaaf, met rukwinde van so sterk as 155 km/h, terwyl dit teen sowat 11 km/h in ’n noordwestelike rigting beweeg het.

Die stelsel woed steeds in die Mosambiekkanaal, digby die suidwestelike kus van Madagaskar, waar dit vir tot 200 mm reën tot Donderdag kan sorg.

Volgens Amerika se Nasionale Oseaniese en Atmosferiese Administrasie (NOAA) is dit nou een van slegs vier tropiese stelsels op rekord om oor die hele Indiese Oseaan, van wes na oos, te beweeg. Die laaste twee wat dit kon uitrig, was sikloon Hudah en Leon-Eline, beide in die jaar 2000.

Boonop het Freddy vir nóg ’n rare verskynsel gesorg toe dit op 1 Maart, nadat dit reeds suidelike Afrika se vasteland getref het, teruggedraai het na die Mosambiekkanaal. Dit was vir een dag lank ’n tropiese depressie wat vir baie reën in Mosambiek gesorg het, net om toe weer van wes na oos, terug na Madagaskar te beweeg.

Volgens Madagaskar se weerdienste is die laaste weerstelsel wat só ’n omwenteling kon maak, in 1998 aangeteken.

FREDDY SE ONTWIKKELING

Freddy het min of meer op 5 Februarie naby Australië ontstaan as ’n tropiese versteuring, waarna dit in ’n kategorie 4 hewige tropiese sikloon ontaard het.

Daarna het dit na die suidwestelike kom van die Indiese Oseaan beweeg, waar dit nog verder versterk het.

Op sy sterkste, as ’n kategorie 5-sikloon, het dit winde van 270 km per uur gehandhaaf. Op 19 Februarie het dit Madagaskar naby Mananjary getref, waarna dit ietwat verswak het, net om weer in spoed op te tel in die Mosambiekkanaal.

Dit het kort daarna vir Mosambiek getref en vinnig verswak, net om op 1 Maart terug te keer na die Mosambiekkanaal. Dit het toe ook sy status as ’n tropiese sikloon herwin.

Freddy het reeds die dood van 23 mense veroorsaak, terwyl dit meer as 600 huise vernietig het en meer as 11 000 mense ontwortel het.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.