Die voorgestelde wetswysiging vir die vleisbedryf, waarvolgens die bestuur van die pluimvee- en suiwelbedrywe voorts die verantwoordelikheid van die Vleisraad van Namibië kan raak, is deur produsente verwelkom.

Dit volg nadat die minister van landbou, water en grondhervorming, Calle Schlettwein, Woensdag ’n wetsontwerp vir die wysiging van die wet op die vleisbedryf van 1981 aan die parlement voorgelê het.

In dié wetsontwerp word voorgestel dat die Vleisraad, tans die statutêre liggaam wat die Namibiese vleisbedryf (bees, skaap en varke) se sake hanteer, ook soortgelyke beheer oor die suiwel- en pluimveebedryf gegee moet word.

Daarbenewens word ’n naamsverandering vir die Vleisraad voorgestel – die Raad vir Lewende hawe en Lewendehaweprodukte.

Schlettwein het verduidelik die twee bedrywe staan op die rand van ineenstorting weens invoere uit ander lande en ’n behoefte bestaan dat invoere deur ’n doeltreffende liggaam soos die Vleisraad bestuur kan word.

“Beskikbare data toon dat Namibiese verbruik die plaaslike pluimvee, suiwel- en varkbedrywe kan dra, as die bedrywe die nodige ondersteuning vir groei kan kry. Dit is gebaseer op die uitgangspunt dat verbruikerspryse met Sacy-pryse moet ooreenstem en nie tot nadeel van verbruikers moet strek nie,” het Schlettwein bygevoeg.

PRODUSENTE

Intussen het Dirk van Wyk, die Suiwelprodusentevereniging (DPA) se voorsitter, gesê produsente beskou so ’n wetswysiging as ’n geleentheid vir die suiwelbedryf om weer te kan groei, wat aansluit by Namibië se beleid vir tuisgroei, werkskepping en selfvoorsienendheid.

“Ons is positief oor die wending, maar ons verstaan dit is nie die laaste hekkie nie,” het Van Wyk gesê en bygevoeg hulle besef dat daar nog ’n hele proses voorlê voor die wetsontwerp as wet afgekondig sal kan word.

Hy voeg by produsente veg al agt jaar lank vir so ’n wending, wat hul selfbehoud moet verseker.

“Ons hoop hierdie sal eindelik beskerming vir die suiwelbedryf bied, sodat plaaslike produsente met die pryse van ingevoerde produkte kan meeding. Dit moet verhoed dat ander lande produkte plaaslik stort waarteen ons nie kan kompeteer nie,” het hy bygevoeg.

Hy sê plaaslike produsente bly uitgelewer aan hoë produksiekoste en “soek net ’n gelyke speelveld”.

Hy sê die bedryf is steeds onder druk omdat koste soos voer en brandstof opnuut gestyg het.

“Boonop kan ons nie prysverhogings van verwerkers verwag nie aangesien dit tans ook nie goed met die man op straat gaan nie,” het hy bygevoeg.

KLEINVEE

Louis Kleynhans, die voorsitter van die Namibië Pluimveeprodusentevereniging (PPA), asook algemene bestuurder van Namibia Poultry Industry (NPI), sê pluimveeprodusente is ewe optimisties oor die wending.

“Moontlik sal daar voorts dan ook beter beheer oor die smokkelary van pluimveeprodukte toegepas kan word en kan goeie beheermaatreëls ingestel word,” het hy gesê en bygevoeg dat dit ook vir die kommersiële lêhoenderbedryf sal geld.

Die plaaslike pluimveebedryf staar groot uitdagings in die gesig, soos die onwettige smokkel van goedkoop pluimveeprodukte, swak doeanebeheer op hawens en storting deur ander lande, terwyl hoë voerkoste ’n beduidende kwessie vir plaaslike produksie is.

PARLEMENT

Schlettwein het voorgestel dat die 1981-wet op die vleisbedryf herdoop word as die wet op lewende hawe en lewendehaweprodukte. “Die insluiting van pluimvee- en suiwelbedryf onder die wet bied aan die Vleisraad die mag om die subsektor te reguleer, tot voordeel van plaaslike produsente en verbruikers,” het hy bygevoeg.

[Bron – Republkein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.