Meatco het tydens die afgelope boekjaar ’n verlies van N$118 miljoen gely, met die ouditeure van Grand Namibia wat van mening is dié instansie het ’n punt bereik waar dit slegs met staatshulp sal kan voortbestaan.

Die ouditeure glo wesenlike onsekerhede bestaan oor Meatco as ’n lopende saak en dat die instansie se verliese veel groter sou gewees het (sowat N$204 miljoen) as die regering nie ’n reddingsboei van N$86 miljoen gebied het nie.

Dit aangesien Meatco se totale bates minus die totale laste, ofte wel die ekwiteit, negatief sonder dié geld sou wees. Tans staan die ekwiteit op bykans N$65 miljoen, en die skuldlas op N$670,7 miljoen, met die Ontwikkelingsbank van Namibië (DBN) wat die grootste risiko dra.

Meatco se netto verlies ná belasting het egter van N$205,1 miljoen in die vorige boekjaar verbeter tot die huidige N$118 miljoen, met die inkomste wat ook met 15% verhoog het vanaf N$ 752 miljoen na N$865 miljoen.

Dit aldus ’n mediaverklaring wat Meatco die afgelope naweek uitgereik het nadat ’n jaarvergadering vir produsente Vrydag buite Grootfontein gehou is.

Tydens die geleentheid is die instansie se jaarverslag aan produsente voorgelê, met Meatco wat sê die vordering is gemaak ten spyte van ’n lae deurset in sy abattoir en ’n verswakking van die Namibiese dollar-euro-wisselkoers.

Die tydperk onder oorsig is vanaf 1 Februarie 2022 tot 31 Januarie 2023.

MEDEDINGENDE PRYSE

Meatco sê oor die afgelope drie jaar het die deurset in sy abattoir ’n uitdaging gebly.

Tog het die instansie volgehou om mededingende pryse aan produsente te betaal – wat beduidend hoër was as die Suid-Afrikaanse pariteitsprys. Dit is glo gedoen in ’n poging om primêre produksie te ondersteun asook in landsbelang.

“In terme hiervan het Meatco N$560 miljoen (en N$492 miljoen in 2022) aan produsente betaal om die primêre produksie te beskerm,” is in die mediaverklaring gesê.

Meatco sê dit het vanjaar ook 590 ton méér beesvleis verkoop en sy inkomste met N$116 miljoen teenoor 2022 verbeter.

“Tydens die afgelope boekjaar het Meatco ’n totale finansiële inspuiting ter waarde van N$1 miljard vir belangegroepe beteken,” is gesê.

Verder is tot 73% van die gegenereerde waarde in produsente teruggeploeg (72% in 2022), 22% in die werknemerskoste (24% in 2022), 30% in verskaffers (24% in 2022) en 8% is afgestaan aan finansiële heffings (6% in 2022).

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.