’n Nuwe studie op sebravisse deur navorsers van die Universiteit Stellenbosch (US) het bevestig dat die verbruik van rooibostee – en spesifiek ongefermenteerde groen rooibostee – moontlik kan help om angs te verlig.

Die heilsame eienskappe van rooibostee (Aspalathus linearis), ’n produk wat uniek aan Suid-Afrika is en hoofsaaklik in die Cederberg-area van die Wes-Kaap groei, wissel van die kaffeïenvrye en anti-inflammatoriese aard daarvan tot die anti-oksidante, noodsaaklike minerale en vitamiene wat dit bevat, asook die positiewe rol wat dit in die vermindering van pyn en allergieë en in hartgesondheid speel.

Die onlangse bevinding dat dit ook angswerende eienskappe bevat – wat beteken dit voorkom of verminder die graad van angs wat iemand ervaar – maak hierdie tee selfs meer gesog as ʼn daaglikse aanvulling, het prof Carine Smith, Hoof van die Mediese Navorsingslaboratoriums van die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW), gesê.

Die studie is by die FGGW se nuwe Sebravis-laboratorium gedoen, wat die tropiese sebravis vir mediese navorsing gebruik.

Die laboratorium is net langer as ’n jaar gelede tot stand gebring. Sedertdien is daar aan etlike studies gewerk waarby gevorderde analitiese farmakologie, toksikologie, terapeutiese teikenidentifikasie en die ontdekking van geneesmiddels betrokke is. Sebravisse is op ’n unieke wyse vir die laboratorium se navorsingsdoeleindes geskik, omdat hulle genetika baie met dié van mense ooreenstem – meer as 80% van die gene wat daarvoor bekend is dat dit siektes by mense veroorsaak, word deur soortgelyke gene in sebravisse verteenwoordig.

Een van die eerste projekte wat uit die nuwe laboratorium gespruit het, was die onlangse publikasie van ’n navorsingartikel in die invloedryke joernaal Food & Function, waarin die bevindings bekyk is van die studie oor die potensiële neurobeskermende en angswerende eienskappe van ongefermenteerde (groen) rooibos.

Die navorsing is in samewerking met Spaanse navorsers van die San Jorge-universiteit en ’n plaaslike bydraer uit die farmaseutiese bedryf gedoen.

Trots

Smith het gesê sy is verheug dat die eerste data wat deur die Sebravis-navorsingseenheid gepubliseer word, met iets “so trots Suid-Afrikaans” verband hou.

“Ons is ook verheug dat hierdie studie in samewerking met ’n Spaanse universiteit gedoen is. Al is ons nog ’n nuwe navorsingseenheid wat die generering van sebravis-data betref, is dit wonderlik om reeds goed genoeg te wees om deel van ʼn internasionale span te vorm. Dis voorts wonderlik dat hierdie ’n trots Suid-Afrikaanse onderwerp is, omdat rooibos net hier gekweek kan word.”

Smith het in ’n onderhoud daarop gewys dat die Wêreldgesondheidsorganisasie Suid-Afrika as een van die mees gestresde lande ter wêreld geklassifiseer het. “Die resultate van hierdie studie beteken ons het moontlik die natuur se bydrae tot die behandeling van sommige van ons land se gesondheidsprobleme blootgelê. Dit wys dat groen rooibostee ’n kalmerende effek kan hê as jy aan angstigheid ly.”

Sy het bygevoeg dat sebravisse, wat van Maleisië afkomstig is, dalk die “nuwe knaagdier in navorsing” is. “In die larwestadium is hulle redelik deursigtig, derhalwe is hulle uiters geskik vir mikroskopie.

“Ons teel die volwassenes in ’n paar tenks. Die visse kan sowat drie jaar in ʼn laboratorium leef, teenoor sowat ’n jaar in die natuur. Wat hulle so gesog vir navorsing maak, is dat die meeste navorsing tydens die vroeë larwestadium gedoen word, wanneer hulle nog nie as wesens met gevoel beskou word nie. Dit maak van ons model ʼn meer etiese manier om ʼn lewende organisme in navorsing te gebruik, omdat hulle in daardie stadium nie pyn kan ervaar nie,” het sy gesê.

Sebravisse ideaal

Volgens Smith bestudeer haar groep die verband tussen psigologiese stres en chroniese inflammatoriese siekte. “Sebravisse is ideaal vir die ontdekking van geneesmiddels in hierdie konteks, omdat ons in staat is om deeglike toetse te doen – nie net wat gedragsassessering en behandelings-aksiemeganismes betref nie, maar ook rakende die risiko van oordosisse en langtermyn-gebruik.”

Volgens Smith het die studie onder meer bevind dat groen rooibostee as ʼn “funksionele breinkos” beskou kan word en ’n goeie opsie kan wees as ʼn beginbestanddeel in die ontwikkeling van nuwe gesondheidskosprodukte wat as ʼn alternatief kan dien vir farmaseutiese produkte wat op fisiologiese voordele aanspraak maak.

Die laboratorium se navorsing oor rooibos se eienskappe gaan voort danksy geldelike steun van die Suid-Afrikaanse Rooibosraad.

Smith, wat self elke dag rooibostee drink, het gesê almal weet dit is ʼn anti-oksidant en dat dit diuretiese funksies het (wat vir hoë bloeddruk help), asook wonderlike kardiovaskulêre voordele. “Tot dusver het navorsing nog nie ʼn enkele negatiewe effek van rooibos uitgewys nie, dus kan verbruik oor die algemeen as veilig beskou word.”

Sy het bygevoeg dit is uiters betekenisvol dat die neurobeskermende en angswerende eienskappe by rooibostee se lys voordele gevoeg kan word. “Teen die agtergrond van soveel ongegronde aansprake op gesondheidsvoordele wat vir verskillende aanvullings gemaak word, is dit bevredigend om te kan bydra tot die wetenskaplike data wat die gebruik van rooibostee ondersteun as ʼn funksionele kosproduk wat gesondheid op vele fronte positief kan beïnvloed.”

[Bron – Windhoek Express]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.