Voorraad ter waarde van derduisende Namibiese dollar wat van bederfbare produkte tot mediese toerusting insluit, is agter slot en grendel in pakhuise op die Internasionale Lughawe Hosea Kutako (HKIA) nadat die Namibië Lughawensmaatskappy (NAC) Saterdag vir Menzies Aviation die trekpas gegee het. Die maatskappy wat die tender vir grondhanteringsdienste teen Paragon Investment Holdings verloor het, se personeel is Saterdag met onmiddellike effek toegang tot die lughaweperseel geweier – met die pakhuise wat onder hulle toesig was wat summier met voorraad en al gesluit is. Die impak hiervan het verskeie besigheide geraak, met twee eienaars wat in telefoniese onderhoude met Republikein gesê het hulle sal hul deure moet sluit indien die voorraad nie onmiddellik beskikbaar gestel word nie.

Qatar Airways, Ethiopian Airlines en ATC Avation het in die lig van Saterdag se besluit ’n verbod op die vervoer van alle vragte van- en na die lughawe geplaas.

Een van dié wat swaar hierdeur getref is en wag dat meer as ’n halfmiljoen dollar se voorraad vrygestel word, is een van die grootste besighede wat vrag na Namibië inbring. Volgens haar sluit die produkte nét vir haar besigheid van mediese toerusting vir operasies tot tenderdokumente in.

“My hande is totaal en al afgekap en niemand, letterlik niemand, luister na ons nie! Soos dit nou lyk, gaan ek my besigheid verloor,” het die eienaar gesê.

“Operasies word nou gemis, mense kan nie tenders indien nie, besighede verloor daagliks duisende en ons kry geen antwoorde nie.”

Sy wou ook weet wie gaan pa staan vir die skadevergoedingseise vir die verliese en verval van goedere.

“Kliënte is vir ons vies, maar ons kan niks doen nie. Navrae aan NAC word maar net weer terugverwys na Menzies, wat sê hulle hande is afgekap. So gaan die vete (tussen Menzies en Paragon) voort en koeriermaatskappye staan doodstil. Ek dink nie mense besef regtig wat die verwoestende effek hiervan is nie.”

’n Ander sake-eienaar wat eksotiese plante invoer, sê haar besigheid gaan bankrot speel.

“Ek kan maar my deure sluit. Ek het ’n klein besigheid en het duisende verloor,” het die vrou gesê. Dit sluit in die waarde van die plante, vragkoste en ook die geld wat sy noodgedwonge weer aan haar kliënte moes terugbetaal. Volgens die eienaar is haar bestelling terug herlei na Europa en daar vernietig omdat die vliegtuig nie op HKIA kon land nie. Deel van die bestelling was voorraad vir die lenteseisoen en sy moet nou inderhaas per voertuig na Suid-Afrika reis om nuwe voorraad te kry om haar besigheid se deure te probeer oophou.

“Ek sou die eerste persoon in die land wees wat ’n plant uitvoer en dit is nou ook daarmee heen,” het sy mismoedig gesê.

Die NAC het presies geweet wat hulle doen toe hulle Saterdag die grondhanteringsdienste aan Paragon oorhandig het, sê die vrou.

“Hulle het geweet watter geweldige impak dit gaan hê en hulle doen niks daaraan nie. So verloor mense duisende en selfs hul besighede.”

Vrae oor onder andere watter stappe gedoen gaan word om die situasie so spoedig moontlik te beredder, is aan die uitvoerende hoof van die NAC, Bisey /Uirab, gerig.

Hy het gesê die vrae is ontvang en bygevoeg ’n span werk daaraan om dit in konteks en omvattend deur te gee omdat daar ook “regsimplikasies” is. Hy het die hoop uitgespreek dat die antwoorde teen gistermiddag gereed sou wees, maar dit is egter teen druktyd nog nie ontvang nie.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.