Die Groentemandjie op Gobabis het op 1 Julie vanjaar sy 25ste bestaansjaar gevier.

Tannie Rosie du Plessis vertel hulle het destyds net met groente en vrugte begin.

“Ons het van die huis af begin en 90 vroue het hulle groente en vrugte kom koop,” vertel sy.

Later het sy geskuif na ’n klein perseel van sowat 25 vierkante meter. “Ons was vir agt jaar daar voor ons na die huidige perseel geskuif het.”

En nou, behalwe vir die groente en vrugte, spog hulle met ’n koffiewinkel en ’n slaghuis.

“En my kinders is ook nou betrokke. Dit het ’n regte familiebesigheid geword.”

Haar dogter, Liezl, is ’n gekwalifiseerde sjef en sy is bekend vir haar heerlike burgers. Die koffiewinkel se spyskaart verander op ’n weeklikse basis. Hulle bied nie aandetes nie, maar met geleentheid sal hulle ’n spesiale spyskaart en aandete bedien.

“Ons het dit probeer met Valentynsdag en die mense het gesê hulle sien uit na nog sulke geleenthede,” sê sy.

Haar jongste seun, Adriaan, is aan die stuur van die slaghuis.

“Hy het baie by die blokman geleer voor hy oorgeneem het.”

En uit ondervinding, is die droëwors en biltong ’n wenner; lekker nat mét vet.

Die Koffiehuis spog met ’n verskeidenheid geskenkies, badprodukte, kombuisware en oorbelle.

Tannie Rosie sê dit is mos maar altyd lekker om ietsie mooi te koop; vir jouself of as ’n geskenk. Daar is ook beskuit en konfyt beskikbaar, wat van die vroue op die dorp maak en van die produkte kom ook van Windhoek af. “Dis lekker om die gemeenskap ook te kan ondersteun,” vertel sy.

Die Groentemandjie is ’n eenstopwinkel, vir enige groentebehoeftes, ’n vinnige happie om te eet en ’n ietsie vir langs die pad. Kom maak gerus ’n draai.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.