Tydens ’n onlangse besoek aan die Omahekestreek, het ons aangeklop by ds. Werner van den Heever van die Gereformeerde Kerk Gobabis wat gesels het oor die Sanveld-gemeente by Drimiopsis en die verandering wat dié groep ondergaan.

“Die Gereformeerde Kerk Gobabis bestaan al van die 1930’s en sedertdien neem die kerk die sendingopdrag baie ernstig op. Op hierdie manier het baie van die San-gemeenskap en plaaswerkers in die omgewing tot bekering gekom,” vertel hy.

Hy sê voorts die San-bediening het in die vyftiger- of sestigerjare in alle erns vlamgevat, met die vertaling van die Bybel in !Kung deur wyle ds. Flip van der Westhuizen.

“Met die verloop van tyd, het die Gereformeerde Kerk Gobabis se verantwoordelikhede al hoe minder geraak, want die Here is met sy kerk besig en die San het self begin om inisiatief te neem, tot so ’n mate dat ons in 2009 tot gemeentestigting kon gaan,” het ds. Werner gesê.

Die gemeente is op Drimiopsis gestig en daar was reeds twee leraars.

Die eerste was ds. Dirk Kotze, wat ook die skoonseun van dr. Callie Opperman is, en vandag is ds. Jeremia Moletsane die predikant daar.

“Ons is goeie bure en werk ook mooi saam,” het ds. Werner gesê.

“Die groep daar neem die voortou met verskeie gemeenskapsaksies waarby ander gemeentes en kerke kan inskakel en skenkings maak. Dit word baie waardeer en in die toekoms gaan ons mekaar nog steeds nodig hê.”

Ten spyte daarvan dat Drimiopsis in armoede gedompel is, het die Sanveld-gemeente tussen agt en nege bedieningspunte in die Gobabis-distrik. Die Woord word elke Sondag bedien en omdat ds. Jeremia net op een plek op ’n slag kan wees, “neem ouderlinge die voortou”.

Daar is ook by Hippo ’n kleuterskooltjie waar ds. Jeremia se vrou, Lydia, leiding neem en waar tussen 30 en 40 kinders elke dag ’n bord kos ontvang. Dié voorskoolse kinders word dan gereed gemaak om na Hippo Primêre Skool te gaan.

“Daar is heelwat skenkings wat van die buiteland ontvang word om beide die bediening en die skooltjie aan die gang te hou, waarvoor ons verskriklik dankbaar is, want die Here sorg net.”

Ds. Jeremia en sy span berei die kos voor.

“Dit wat nie deur skenkings gedek word nie, word in die dorp aangekoop. Besighede weet ook al van die projekte, so ons is dankbaar vir spesiale pryse wat hulle ons gee.

“Die mooiste van die Sanveld-gemeente is dat, waar inwoners destyds baie keer bakhand gestaan het, soos my kollega ds. Henning Venter so mooi sê, is dit nie meer die geval nie. Hulle vat nou self die voortou, neem die inisiatief, aanvaar die verantwoordelikheid en ds. Jeremia loop voor.”

Ten tyde van Republikein se besoek aan Gobabis, was ds. Jeremia in Uganda.

“Hy volg ook in die voetspore van wyle ds. Van der Westhuizen met die Bybelvertaling en die plan is om hom nog meer vir Bybelvertalings te gebruik, veral onder die San,” het ds. Werner gesê.

Intussen studeer ds. Jeremia verder en het hy reeds sy meestersgraad in hierdie lyn voltooi.

“In terme van lidmate, groei die kerk aanhoudend en is ds. Jeremia juis besig om geestelike leiers op Drimiopsis toe te rus en Bybelskool te gee sodat hulle ook ander kerke op Drimiopsis kan laat groei. Daar is ook baie kinders en jongmense wat by die gemeente aansluit, en dit is wonderlik,” het ds. Werner afgesluit.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.