Selfs met hul beste pogings vind staatskole dit moeilik om te oorleef en in alle behoeftes te voorsien met die toelaes wat dit van die ministerie van onderwys, kuns en kultuur ontvang. Die minister van onderwys, kuns en kultuur, me. Anna Nghipondoka, het erken staatstoelaes is nie genoeg nie en skole word met voortdurende prysstygings nie teen ekonomiese aanpassings beskerm nie.

Tans is die universele onderrigtoelaag vir preprimêre en primêre leerlinge N$200 per leerling per jaar en vir sekondêre leerlinge N$300 per jaar. Dit moet vir van onderrig tot skoonmaakmiddels tot herstelwerk gebruik word.

Voor stygende leerlinggetalle en kwynende hulpbronne was dit onderskeidelik N$400 en N$500. In die huidige finansiële jaar jaag dit die ministerie N$152,3 miljoen uit die sak. Vir skryfbehoeftes is daar vir elke preprimêre en primêre leerling N$100 vir die jaar en vir sekondêre leerlinge N$150.

Altesaam N$51,3 miljoen is vanjaar hiervoor aan skole beskikbaar gestel.

Nghipondoka het in die Nasionale Vergadering (NV) gesê haar ministerie is oortuig daarvan dat die instelling van onderrigtoelaes nie die morele verpligting en verantwoordelikhede van ouers en voogde tot hul skoolgaande kinders vervang nie.

“Ouers en voogde is steeds vry om by te dra, al is dit vrywillig,” het sy gesê. Die minister het skoolhoofde egter gemaan gratis onderrig is ’n regeringsbeleid en geen Namibiese kind mag op welke manier uitgesluit word omdat ouers nie in staat is om ’n bydrae te maak nie.

Sy het ’n beroep op streekdirektorate gedoen om skryfbehoeftes betyds aan te koop en te versprei en om te verseker dit is opgebruik voordat ouers vir bydraes gevra word.

Nghipondoka het beklemtoon geen leerling mag vordering tot ’n volgende graad of plasing in ’n skool geweier word weens die wanbetaling van vrywillige bydraes nie.

Terwyl sy die “huidige fiskale klimaat erken”, het sy skoolbestuursrade en ouers aangemoedig om tot ’n wedersydse vergelyk te kom oor hoe om gehalteonderrig vir kinders te verseker. Met verwysing na die vroeëre implementering van die Skoolontwikkelingsfonds (SDF), sê Nghipondoka dit wou voorkom asof dit in stryd was met die grondwetlike voorsiening van gratis onderwys. ’n Studie is gevolglik in 2010 gedoen wat gewys het die betalings tot die SDF was vir baie leerlinge ’n struikelblok in die toegang tot onderrig.

Leerlinge wat dit nie betaal het nie, is huis toe gestuur, terwyl leerlinge wat bewus was van hul ongunstige sosioëkonomiese omstandighede dikwels uit die skool weggebly of eenvoudig nie ingeskryf het nie.

Om dit te vermy, het die ministerie toegang tot fooivrye onderrig op primêre vlak in 2013 ingestel. Dit beteken alle leerlinge moet skool bywoon, selfs al kan die ouers nie ’n bydrae lewer nie.

“Gratis onderrig beteken die ministerie maak onder meer voorsiening vir die indiensneming van gekwalifiseerde onderwysers, infrastruktuur in die vorm van klaskamers, water- en sanitasiegeriewe, ondersteuningsmateriaal vir die implementering van die leerplan, sowel as om voorsiening te maak vir leerlinge met spesiale onderrigbehoeftes,” het Nghipondoka gesê.

Nog grootskaalse kostedrywers is staatskoshuise, spyseniering van etes, die skoolvoedingsprogram, ondersteuning aan gemeenskapskoshuise, sowel as die nasionale senior sekondêre sertifikaat-eksamens.

[Bron – Republikein]

Teken In


Registreer


Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.