Die Lagare-stadion op Gobabis sal vanaf 28 tot 30 Julie die gasheer vir die Omaheke Agri-Food Confex speel.

Tydens die ekspo sal ʼn konferensie oor landboubeleggings vir voedsel en verbeterde voedingswaarde aangebied word.

Volgens die ministerie van landbou, water en grondhervorming se dr. Jorry Kaurivi, vorm hierdie deel van die proses om kwessies soos die onlangse droogte en die Covid-19-pandemie te oorkom.

“Die voortdurende oorlog in Europa het ook ’n impak op voedsel en ons moet na groter voedselverwerking en –produksie beweeg,” het hy gesê.

Die Omaheke-streekraad het die geleentheid geskep in samewerking met die Verenigde Nasies (VN) se Wêreldvoedselprogram.

“Die geleentheid dien as platform om ’n doeltreffende en ook kostedoeltreffende kommunikasiekanaal te skep om te wys watter produkte, produksie en dienste tans beskikbaar is.”

Kaurivi sê die konferensie stel ten doel om kennis oor voedingswaarde te versprei, nuwe inisiatiewe te implementeer asook om toegang tot markte te ondersoek en te verkry.

“Ons moet rolspelers in die landbouwaardeketting hierin fasiliteer – iets wat tans ontbreek, veral in die Omahekestreek.”

Belangstellendes kan ook uitsien na paneelbesprekings oor spesifieke uitdagings in die Namibiese bedryf as dit by voedselproduksie kom. Slypskole asook opleidingsessies sal ook gehou word.

Demonstrasies sal aangebied word terwyl nuwe tegnologie ook tydens die konferensie ten toon gestel sal word.

“Een van die demonstrasies sal daarop fokus oor hoe om melk in verskeie produkte om te skakel, sodat ons ons eie produkte kan hê wat in die mark versprei kan word,” het hy bygevoeg.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.