“Die vullishoop op Gobabis se lewensduur is verby. Sowat vyf jaar gelede het kundiges van Stad Windhoek die terrein besoek en die slotsom was dat die terrein onrehabiliteerbaar is.” So het die woordvoerder van Gobabis se munisipaliteit, Frederick Ndeutapo Ueitele, Woensdag aan Republikein gesê op navrae oor die toestand van die dorp se vullishoop. Die inwoners van Gobabis en veral mense wat naby die asgate woon, is ontstoke oor die toestand van die vullishoop en die besoedeling van die omliggende omgewing. “Dit is regtig ’n riller. Daar is nie ’n heining rondom die asgate nie en die papiere waai die hele wêreld vol,” het een van die inwoners van die nabygeleë omgewing gesê. Hoewel die vullishoop ongeveer ’n kilometer van die naaste huise geleë is, het die situasie al so handuit geruk dat vullis al so naby as 200 meter van die naaste huise lê. Ueitele het ook bevestig hulle is bewus van die onwettige plakkers wat tans op die terrein woon. “Die mense wat onwettig op die terrein woon, kan nie beheer word nie, want hulle ken die munisipale beamptes en hardloop altyd weg as hulle ons sien,” het hy gesê. Intussen sê inwoners hulle is bang om alleen na die vullisgate te gaan. “Ek is te bang om alleen daarheen te gaan. As jy daar stop, storm hulle op jou kar af en kyk wat hulle kan vat,” het een vrou gesê. “Dit is aan die buitewyke van die dorp en niemand gaan jou eers hoor as jy gil nie,” het ’n ander inwoner gesê. REDES Volgens Ueitele is die munisipaliteit se hoofuitdaging ’n tekort aan geld. “Ons het nie die geld om die terrein te omhein nie. Die munisipaliteit se masjinerie is ook te oud en hou nie tred met die druk van soveel werk nie. Die ‘bulldozer’ word warm in ’n kwessie van twee ure en kan dan nie verder werk nie.” Hy het verder bygevoeg hulle hoop dat geld in die volgende finansiële jaar se begroting beskikbaar sal wees om die kwessie daadwerklik te takel. “Die munisipaliteit werk aan ’n permanente oplossing deur ’n geskikte ligging vir ’n nuwe vullishoop te identifiseer en dan ’n omgewingsimpakstudie te doen. “Stad Windhoek sal ons dan bystaan met die kundigheid op daardie gebied. Gobabis is ook deel van ’n die Namibiese Vereniging van Plaaslike Owerheidsbeamptes en Professionele Ontwikkelingsinstituut (Nalao) se netwerkgroep oor vullisbestuur, wat handig te pas sal kom.” “Ons is intussen besig om fondse te mobiliseer om die gebied te omhein om mense se toegang te beheer en te verhoed dat die wind papiere rondwaai,” het Ueitele verseker. MISDAAD Volgens gemeenskapslede het misdaad in die omgewing toegeneem sedert die onwettige plakkers by die asgate begin woon het. “Die werkers wat na ons toe moet stap, word gedurig voorgekeur en hulle besittings word gesteel,” het een van die inwoners gesê. Die munisipaliteit wou nie kommentaar lewer ten opsigte van die beweerde toename in misdaad nie en het gesê dit is die polisie se jurisdiksie. Verskeie inwoners maak gebruik van die pad wat voor die vullishoop verbyloop en is hoogs ontevrede met die besoedeling in die omgewing. “Die vlieë is orals. Ons spuit onsself bankrot, maar niks help nie,” het een van die inwoners gesê.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.