[Bron – Republikein]

Gobabis het deur die jare talle skrywers en kunstenaars opgelewer, maar min so legendaries soos Hélène de Kok-Claassens.

Dié hoeksteen van die gemeenskap wat gelyktydig die rolle van mediese dokter, skrywer, boervrou en gemeen­skapswerker uitgeleef het, is op 17 Desember verlede jaar weens nierkomplikasies oorlede.

Hélène kom oorspronklik van die Vrystaat. Sy het daar, sowel as in die destydse Rhodesië en Zambië, onderwys gegee.

Sy het haar later as mediese dokter bekwaam en boer sedert 1974 saam met haar man, Carel (Boetie) Claassens, op die plaas Hekel by Gobabis. Sy het ‘n kliniek in die landelike gemeenskap bedryf asook ‘n handwerksentrum vir werklose San-vroue.

Haar werk op die hervestigingsplaas Skoonheid het die kliniek behels, asook opvoeding in vroeë kinderontwikkeling, gesondheid, siektebeheer, en die leer van belangrike lewensvaardighede.

Benewens die opheffing van die gemeenskap het die Skoonheid-projek ook ten doel gehad om armoede te verlig. Só het sy die bynaam “Sangoma van die Bos” by die gemeenskap gekry.

Haar gemeenskapswerk was egter nie haar enigste nalatenskap nie – deur die jare het sy ook verskeie boeke neergepen.

Sy het destyds gesê ‘n diep belangstelling in die wêreld, mense en gebeure hier het haar geïnspireer om te skryf.

“Hoewel medisyne my roeping was, was skryf nog altyd my passie,” het sy destyds in ‘n onderhoud gesê.

Volgens haar dogter, Mareli Claassens, het sy eers op 60-jarige ouderdom begin skryf en het sy meestal in die nag, wanneer sy nie kon slaap nie, geskryf.

Boeke uit haar pen is In die nood – sangoma in die bos; Sangoma, die eerste 60 jaar; Lammie, die moeder van Laurens van der Post (Hélène se oom), Beste boere­braaie in Namibië met Louis en Hester Genis as medeskrywers; Barefoot bushdoctor en Swaarkry met lekkerkry klaarkry.

Laasgenoemde is ‘n bundel kontrei­stories oor die vroeë pioniers van die Omaheke.

Barefoot Bushdoctor, haar memoires, is in 2017 uitgereik.

Die boek vertel die verhaal van die uitdagings wat Hélène as dokter en vrou in ‘n afgeleë deel van die Kalahari-woestyn in die gesig gestaar het. Haar avonture op die plaas is beide humoristies en tragies.

Sy het lank aan dié boek gewerk, sedert sy dagboek gehou het van haar laerskooldae.

Barefoot Bushdoctor draai meestal om Hélène se mediese praktyk op die plaas – 80 km van die naaste hospitaal af. Sy het pasiënte versorg wat gewoonlik te voet, te perd, met ‘n donkiekar of met beeslorries daar aangekom het. Sy het die gemeen­skap vir meer as 40 jaar gedien.

Deur die jare moes sy allerhande noodgevalle hanteer – sonder enige werklike ondersteuning. Sterwende pasiënte moes gestabiliseer word voordat hulle na Gobabis of Windhoek vervoer is – en daar was geen ambulanse beskikbaar nie.

Die boek beskryf ook onder meer haar kinderdae in die Oranje-Vrystaat, waar sy aanvanklik ‘n plaasskool bygewoon het met 30 kinders van sub A tot standerd 6 in ‘n enkelklaskamer en een onderwyser, haar pa, Stuart de Kok. Sy deel sorgelose ervarings en ontberings van haar kinderjare in ‘n ander tyd – ‘n heel ander lewe.

Die wese van Barefoot Bushdoctor lê in uitdagings en avonture, humoristies en tragies, vir ‘n vrou, ‘n dokter, op ‘n plaas in die genadelose, afgeleë maar lonende wêreld oor ‘n tydperk van 40 jaar.

FAMILIE

Boetie vertel hoe hulle mekaar deur ‘n vriend van hom in Durban ontmoet het.

“Ek was op vakansie en ek het saam met hom by sy vriendin gaan kuier en daar vir Hélène ontmoet. Ek het eers vir een aand met haar uitgegaan, toe vir die hele vakansie en toe vir ses jaar. Ons het heen en weer gekuier tot ek op ‘n dag gesê het: ‘Ek kan nie so aangaan nie; óf ons raak verloof, óf ons verbreek die verhouding.’

“Dit was ‘n groot besluit vir haar. Sy het ‘n loopbaan gehad en sou haar lewe vir ‘n plaaslewe moes verruil.”

Volgens Mareli het haar ma in daardie stadium in die pediatriese afdeling van ‘n hospitaal in Johannesburg gewerk.

“Sy was ‘n algemene praktisyn met ‘n ekstra jaar se opleiding in narkose en ‘n jaar in kindersorg.

“Sy het gedink sy sal nie op die plaas as ‘n dokter kan werk nie, maar ná haar aankoms het sy die geweldige nood onder die mense gesien en haar praktyk begin. Sy wou graag met die groepdokterspraktyk op Gobabis saamwerk, maar daardie tyd is vir haar gesê sy nie kan nie, omdat sy ‘n vrou is,” vertel Mareli.

Sy vertel haar ma het daarin geglo om dinge reg te doen en dat sy dit uitgeleef het, alhoewel dit dikwels uitdagend vir haar was.

“Daardie tye en nou nog is die boeregemeenskappe van die omgewing baie konserwatief en die manier waarop sy na die lewe gekyk het was baie meer liberaal.

“Sy was haar hele lewe lank besig om deur die sogenoemde glass ceilings te breek. Sy het gedoen wat sy geglo het die regte ding is – nie wat die gemeenskap of mense vir haar voorgeskryf het nie. Sy het dikwels alleen die pad gestap en sy was nie bang om teen die stroom te swem nie. Ek sou sê sy sou voor onafhanklikheid en as sy ‘n man was waarskynlik as ‘n conscious objector gesien word, maar sy was ‘n vrou en het besluit om dit op ‘n ander manier te doen soos deur haar praktyk, haar boeke en die gemeenskapsprojekte.”

HULDEBLYKE

Een van haar medeskrywers van Beste boerebraaie in Namibië, Hester Genis, sê Hélenè se menslikheid en “haar stille manier om te dien en ‘n positiewe invloed op ander te hê” is dít waarvoor sy moontlik die meeste onthou sal word.

Hester vertel om saam het Hélène aan die boek te werk, was een van die hoogtepunte in die jare wat sy en haar man in die Gobabis-omgewing gebly het. “Sy was iemand wat geweldige inisiatief aan die dag kon lê. Dit was vir ons ‘n groot eer dat sy ons gevra het om die boek saam met haar te skryf. Ons het baie by haar geleer.

“Ek sien die boek as ‘n stukkie geskiedenis van die Namibiese Boerevereniging wat verlore sou wees indien Hélène nie die visie en deursettingsvermoë gehad het nie. Ons was ‘n uitstekende span.”

Sy het na Hélène se afsterwe hulde gebring aan haar vriendin van 42 jaar.

“Ons liewe vriendin en medeskrywer van Beste boerebraaie in Namibië, Helene de Kok (Claassens), het haar tydelike woning vaarwel geroep.

“Sy was ‘n fenomenale vrou. Altyd ander geïnspireer, baie mense in haar streek opgelig tot groter hoogtes met soveel projekte wat sy met die plaaslike bevolking aangepak het. Nóóit het sy die eer vir haarself gevat nie.

“Sonder haar inspirasie en aanmoediging en harde werk sou hierdie boek ‘n klompie jare gelede nooit die lig gesien het nie. Dit bevat ‘n stukkie geskiedenis op ‘n ligter noot wat andersins verlore sou wees.

“Ons sal jou mis en ons eer jou nalaten­skap met baie lof en eerbied. Haar soort is dun gesaai.”

Haar afwesigheid word ook gevoel deur die Omba Arts Trust, ‘n niewinsgewende organisasie wat kunstenaars en vakmanne in Namibië se plattelandse gebiede ondersteun deur hul unieke kunswerke en skeppings te bemark en verkoop.

“Dr. De Kok was nie net ‘n dierbare vriend nie, maar ook ‘n Omba-vennoot wat sedert 2008 saam met Ju/’hoansi handwerkers op die Skoonheid-hervestigingsplaas in die Kalahari gewerk het.

“Haar voorneme om die welstand van die San-gemeenskap te ondersteun, het in 2003 begin toe sy ‘n private kliniek op die plaas begin het, gevolg deur die handwerk-inisiatief. Haar pogings en toewyding het nie opgehou tot haar dood toe sy in haar middel 80’s was nie.

“Sy het ‘n passie gehad om die onderrig van die San-jeug te ondersteun en het ‘n beduidende rol in die vroeë onderrig by die hervestigingsplaas as ‘n raadslid van die Gqaina-skool gespeel, terwyl sy die skoolgelde van die San-hoërskoolleerlinge op Skoonheid help betaal het.

“Sy was werklik ‘n inspirasie vir ons almal by Omba.

“Ons meegevoel met haar familie en haar man, en aan die San-gemeenskap wat ‘n vriend en versorger verloor het.”

[Bron – https://www.republikein.com.na/nuus/geliefde-hlne-se-soort-was-min2022-01-28]

Teken In


Registreer


Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.