Ellanie Smit – Volgens verskeie amptenare sal Eurowings Discover-vlugte vanaf Frankfurt weer vanoggend by die Internasionale Lughawe Hosea Kutako (HKIA) land.

Dit volg op die chaos wat die afgelope naweek op die lughawe geheers het toe die Namibië Lughawensmaatskappy (NAC) summier Menzies Aviation se dienste by HKIA beëndig het en Paragon Investment Holdings die grondhanteringsdienste laat oorneem het.

Eurowings Discover van die Lufthansa-groep het twee van sy vlugte na Johannesburg herlei. Sedertdien is spesiale vliegtuie van Airlink ingespan om passasiers vanaf Johannesburg na Windhoek te vervoer.

Amptenare wat met ons susterkoerant Namibian Sun gepraat het, het gesê die eerste vlug vanaf Frankfurt sou na verwagting gisteraand opstyg en vanoggend aan die buitewyke van die hoofstad land.

Terwyl hulle gesê het hulle kan nie namens die lugredery praat nie, het hulle gesê aangesien die redery na verwagting vlugte sal hervat, word aanvaar dat regskwessies en kontrakte hanteer is.

Paragon het in ’n kort verklaring gesê Eurowings Discover het aangekondig dat twee van sy vliegtuie gisteraand vanaf Frankfurt sou vertrek en vanoggend vroeg by die lughawe aankom – met Paragon wat die grondhanteringsdienste sal hanteer.

“Net soos Qatar Airways en alle ander lugrederye sal Lufthansa ook voortgaan met hul vlugte na en van Hosea Kutako en hul vlugte sal deur Paragon hanteer word.”

Eurowings Discover kon nie vir kommentaar bereik word nie.

Volgens bronne het Eurowings Disover glo op gister se hofuitspraak gewag voordat hy besluit het om ’n kontrak te onderteken, maar vlugte sal voortgaan.

Die hoërhof het gister ’n dringende aansoek deur Menzies teen die NAC, Paragon en ander verweerders aangehoor.

Die Lufthansa-groep het in 2021 in samewerking met die NAC die nooiensvlug van Eurowings Discover by Hosea Kutako verwelkom.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.