Om die Epako-gemeenskap op Gobabis te bemagtig en toegang tot gesonde kos te bevorder, kweek die Wêreldvoedselprogram (WFP) groente by die Epako-kliniek.

Die WFP poog om die kwessie van wanvoeding in dié gemeenskap van sowat 9 500 lede te takel met sy projek vir geïntegreerde voedselstelsels.

“Hierdie is een manier om lede van die gemeenskap te bemagtig wat nie toegang of geld het om gesonde kos in die formele sektor te koop nie. Hierdie is ’n volhoubare manier om te verseker dat gemeenskappe hulself kan onderhou en ’n gesonde en gebalanseerde dieet kan volg,” het die WFP se programgenoot vir biotegnologie en voedselsekerheid, Shange-Ndamona Mungoba, aan Republikein gesê.

Die projek het drupbesproeiing, ’n drukpomp en ’n 10 000 liter-tenk as waterreservoir geïnstalleer, asook ’n skadunet van 20 m x 30 m waaronder groente soos spinasie, kool, beet en uie geplant kan word.

Die aanvanklike ontwikkelingskoste van die projek beloop US$20 000 uit ’n totaal van US$100 000 wat deur Brasilië gefinansier is.

Om die projek en opleiding doeltreffend te bestuur, het die WFP nou saam met die Namibiese Vereniging vir Aspirantboere (Namfa) gewerk.

VERWAGTE UITKOMS

Volgens die WFP is die verwagte uitkoms van die projek om die plaaslike voedselmarkte te versterk, die vlakke van wanvoeding te verminder, toegang tot ’n gesonde dieet te bevorder, inkomste te genereer en om meer vroue en jongmense uit kleinskaalse boeregesinne aan te moedig om aktief by te dra tot die ontwikkeling van ’n volhoubare voedselstelsel.

Die opgradering van die voedselstelsel by die Epako-kliniek is reeds bespreek en die WFP beoog om sonkrag-droërs te voorsien om die raklewe van produkte te verleng, asook ’n skaal om die groente te weeg. Die instandhouding van skadunette is ook reeds op die agenda.

WFP IN NAMIBIË

Die WFP is sedert 1990 in Namibië betrokke en ontwikkel die oordrag van kennis oor voedselsekerheid fasiliteer en voedingsprogramme in samewerking met die regering.

Die WFP het, sedert 2021, 34 voedselstelselprojekte landswyd geïmplementeer waar dit vaardigheidsontwikkeling in onder meer tuinbou en pluimveeproduksie, innovasie en tegnologie ondersteun het.

In die Hardapstreek het dit met Roots saamgewerk om ’n skoolvoedselstelsel van stapel te stuur deur saad, infrastruktuur en tegniese bystand te verskaf.

“In November 2022 het die projek 812 kg beet en 248 kg wortels geoes. Die projek kon sowat N$25 000 se inkomste genereer,” lui ’n WFP-verslag.

Dit het ook in reaksie op die koringtekort, die eerste koringproduksie by die Ondera-hervestigingsplaas se voedselstelselprojek ondersteun wat optimale voedsel aan meer as 400 gemeenskapslede verskaf het.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.