Dr. Cornelis van der Waal – Kritieke droogtetoestande en ondergemiddelde plantegroei is teen die einde van Mei in die ||Kharas-, Omaheke-, Oshana-, Omusati- en Zambezistreek asook die grootste dele van die Kunene en die westelike dele van Hardap te sien.

In baie van die gebiede het droogtetoestande die hele reënseisoen lank voortgeduur of vir lang tydperke geheers, wat daartoe gelei het dat min weiding beskikbaar is.

Daarteenoor is die Khomasstreek, suidelike dele van Oshikoto en dele van Kavango-Wes groener as normaal vir dié tyd van die jaar.

Die produktiwiteit van plantegroei het tydens Mei in talle plekke in Namibië verbeter as dit met ’n maand vantevore vergelyk word. Tog is plantegroei in sekere dele van die land steeds ondergemiddeld terwyl die reënseisoen nou amptelik tot ’n einde gekom het.

Vandeesweek se opdatering oor nasionale weidingstoeste is ook die laaste vir die huidige reënseisoen.

PROAKTIEF

In die droogtegeteisterde gebiede behoort landbouers sekere proaktiewe stappe te neem om weidingstekorte tydens die winter te voorkom.

Dit sluit in om oortollige diere te bemark en die prioriteit op nieproduktiewe diere te plaas.

Landbouers moet bykomende weiding, aanvullings of voer probeer bekom en tegnologie soos boskosmasjiene begin benut.

Daarbenewens het die damvlakke in die sentrale dele van die land laag gebly tydens die afgelope reënseisoen en gaan dit voort om geleidelik te daal.

HOE DIT WERK

Die sleutelkomponent van die vroeë waarskuwingstelsel is afstandwaarnemingstegnologie wat vrylik beskikbaar is en, naby aan ware tyd, die aktiewe plantegroei oor die hele Namibië heen meet.

Deur die huidige plantegroei-aktiwiteit met die 10 jaar gemiddeld vir een spesifieke gebied te vergelyk, kan ’n objektiewe idee van die status van die weiding verkry word.

Kaarte wat die weidingstatus uitbeeld, word elke tien dae gedurende die reënseisoen (Oktober tot einde Mei) geproduseer en is aanlyn beskikbaar by www.namibiarangelands.com.

Die kaarte behoort soos ’n verkeerslig gebruik te word: As ’n gebied rooi bly soos die reënseisoen vorder, behoort die “rooi ligte” aan te kom vir die moontlikheid op ondergemiddelde voerproduksie. As ’n gebied vir die groter deel van die seisoen groen bly, dan is die kans die beste vir die bogemiddelde produksie van voer. Verskillende scenario’s kan ook ontwikkel, waar ’n gebied die seisoen in rooi begin, maar naderhand groen raak, of andersom. Die kaarte word deur Agri-Ecological Services ontwikkel.

HOEKOM BELANGRIK?

Veeproduksie in Namibië is grootliks van die produktiwiteit van weivelde afhanklik, wat tot baie lae vlakke gedurende erge droogtes kan daal.

Die wisselvalligheid bied ernstige bestuursuitdagings om diere se voedingsbehoeftes te balanseer met die beskikbare weiding, asook om die agteruitgang van die grond te voorkom.

Dié inligting kan aandui watter dele van die land moontlik die meeste deur droogte geraak kan word as dit aan die einde van die reënseisoen kom. Dit gee ook voldoende tyd om inisiatiewe vir droogtehulp te beplan.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.