Ellanie Smit – Beesboere implementeer droogteverwante bemarkingstrategieë om veegetalle te verminder om moontlike kuddeverliese beter te bestuur.

Dit word aangedui deur die lewende uitvoere van beeste wat ’n toename van 42,6% getoon het vanaf die 15 577 beeste wat in Julie uitgevoer is tot 22 214 in Augustus.

Dit is ’n toename van 114,48% teenoor dít wat in dieselfde maand in 2022 uitgevoer is.

Volgens die Vleisraad van Namibië se “Monthly Market Watch”-verslag kan dit impliseer dat die meerderheid lewende uitvoere (98%) na voerkrale in Suid-Afrika gegaan het, terwyl die res vir boerdery- en teeldoeleindes bestem was.

“Geen beeste is direk na Suid-Afrikaanse abattoirs uitgevoer nie.”

Volgens die Vleisraad het uitvoerabattoirs se maandelikse slagsyfer met 8,98% toegeneem – van 10 702 beeste in Julie tot 11 662 koppe in Augustus.

Dit is 156,19% meer as wat in dieselfde maand verlede jaar geslag is.

Volgens die Vleisraad kan dit toegeskryf word aan die aanbod wat deur die droogte teweeggebring is ná die lae reënval wat tydens die 2022-’23-reënseisoen ervaar is.

Met ’n 80%-kans dat El Niño-toestande na verwagting tussen Julie en September vanjaar sal begin, word verwag dat warmer en droër toestande deur hierdie weerverskynsel aangevuur sal word.

“Historiese data toon daar is normaalweg ’n afname in die aantal beeste wat in Augustus gedurende normale reënvaljare geslag word. In hierdie geval is die aantal beeste drie keer hoër as wat in dieselfde maand verlede jaar by uitvoerabattoirs geslag is.”

Die Vleisraad het verder gesê beespryse het oor alle kategorieë in beide veeartsenykundige sones (noord en suid van die Rooilyn) van Namibië gestyg.

Volgens die verslag is die speenkalfprys op met 2,35% vanaf die vorige maand se vlak van N$26,42/kg, maar dit is steeds 18,58% laer as ’n jaar gelede.

“Daar was ’n aansienlike toename in die aantal beeste wat op veilings bemark is vergeleke met ’n jaar gelede, met veilingsbemarking wat byna verdubbel het in vergelyking met dieselfde maand verlede jaar.”

Verder het Suid-Afrikaanse speenkalfpryse aan die ander kant met 4,5% afgeneem vanaf die vorige maand, maar het gedurende die eerste weke van September gestyg as gevolg van ’n groter vraag na speenkalwers.

Luidens die verslag is daar gedurende hierdie tyd verlede jaar minder diere op veilings bemark, wat tot prysstygings gelei het.

“Hierdie dinamiek het verander met die aantal beeste wat opgeveil word, wat 73% meer is as wat in 2022 bemark is en pryse met 18,58% laat daal het.”

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.