Namibië se houtskoolbedryf staan op die punt om ’n houtasynsektor te vestig, met oorsese studies van die produk wat goeie resultate lewer, terwyl dit van iets lastig soos die rook van kilns ontslae sal raak.

Die Houtskoolvereniging van Namibië (Caon) sal teen volgende jaar verskeie plaaslike opleidingsessies oor die vervaardiging hiervan aanbied, terwyl ’n distilleringsaanleg in die Otjiwarongo-omgewing beplan word, het Caon se bestuurder, Michael Degé, aan Republikein gesê.

Houtasyn is wêreldwyd reeds bewys as onder meer uitstekend vir grondbemesting, ’n pesdoder, ’n stimulant vir plantegroei en groente- en vrugteproduksie, asook ’n beweerde hulpmiddel vir mense met maagkwale.

Boonop word dit as omgewingsvriendelik beskou omdat dit as ’n plaasvervanger vir chemiese produkte soos pesdoders kan dien, wat andersins verreikende gevolge vir beide mens en die natuur kan inhou.

NAMIBIË

“Die houtasynbedryf in Namibië staan nog in sy kinderskoene,” het Degé aan die koerant gesê.

“Plaaslik staan Caon aan die voorpunt in die ontwikkeling van dié bedryf. Ons beplan om in Januarie en Februarie volgende jaar verskeie opleidingsessies bekend te stel waar mense kan leer en waar aansporing gegee word om die rook van houtskoolkilns af te tap.

“Ons wil die bedryf aanmoedig om dit al hoe meer te begin doen – dit strek immers tot produsente se eie voordeel,” het Degé gesê.

Die vereniging is voortdurend besig met die ontwikkeling van toestelle wat die rook van kilns kan aftap, ofte wel rookkondensators, terwyl dit ook verskeie toetse op die plaaslike produk gedoen het.

“Ons het reeds die plaaslike produk oorsee laat toets, met baie goeie resultate,” het hy gesê.

Hy sê die binnelandse mark vir houtasyn is in die ontwikkelingsproses.

“Die nuus oor houtasyn versprei vinnig en mense het dit al begin gebruik. Dit werk fantasties vir onder meer peste soos witvlieë. Dit moet egter eers gedistilleer word.

“Hiervoor beplan ons ’n professionele distilleringsaanleg in die Otjiwarongo-omgewing vir volgende jaar,” het hy gesê.

Degé sê Caon sal belangstellendes op hoogte hou van verwikkelinge in die bedryf, asook waar dit eindelik beskikbaar sal wees.

Só WERK DIT

Intussen was Caon ook vroeër vanjaar besig met proewe op hul tweede generasie-rookkondensators, wat op tradisionele kilns vasgemaak kan word.

Die toestel, waarvan die planne vir Caon-lede beskikbaar gemaak word, kondenseer die rook tot ’n houtsuurmengsel, wat verder in waardevolle byprodukte soos humiensuur en houtasyn gedistilleer kan word.

“Die oes van rook kan ook ’n waardevolle inkomste vir houtskoolprodusente beteken,” het Caon gesê.

“Verskeie byprodukte – met behulp van ’n behoorlike distilleringsproses – kan ook uit die rook gemaak word. Houtasyn se hoofgebruike is egter die bevrugting van grond, asook ’n pesdoder vir verskeie peste wat plante aanval,” het Caon verduidelik.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.