Hoewel talle Namibiërs onder die indruk is dat Dinsdag 27 Desember ֹ’n openbare vakansiedag is, het Shoki Kandjimi, woordvoerder van die ministerie van inligting en kommunikasietegnologie, Woensdag bevestig dat dié nuus vals is.

Wanneer ’n openbare vakansiedag op ’n Sondag val, word die volgende dag (Maandag) gewoonlik as ’n vakansiedag beskou.

Kandjimi verduidelik egter dat dié reël nie in die geval van Kersdag en Familiedag vanjaar van toepassing is nie.

“Die Maandag (Familiedag) is reeds ’n vakansiedag en dus is die Dinsdag nie ’n openbare vakansiedag nie,” het hy gesê.

In die buurland sal Suid-Afrikaners wel op 27 Desember ‘n openbare vakansiedag geniet, soos president Cyril Ramaphosa gister aangekondig het.

Ramaphosa het dié aankondiging gestaaf deur die Suid-Afrikaanse Wet op Openbare Vakansiedae toe te pas.

Luidens die Suid-Afrikaanse presidensie se verklaring sou die nietigverklaring van die tweede vakansiedag beteken dat twee openbare vakansiedae sou saamloop en sou dus in stryd wees met die wet wat voorsiening maak vir 12 betaalde openbare vakansiedae per jaar.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.