President Hage Geingob en sy eweknie van Botswana, Mokgweetsi Masisi, ontmoet vandag by die Buitepos-grenspos om amptelik die nuwe stelsel in te wy waarmee Namibiërs dié buurland met slegs ʼn nuwe identiteitskaart kan binnegaan.

Die woordvoerder van die ministerie van binnelandse sake, immigrasie, veiligheid en sekuriteit, Margaret Kalo, sê die nuwe stelsel tree in werking direk ná die inwydingseremonie wat om 10:00 begin.

Geingob en Masisi sal ’n ooreenkoms onderteken om burgers van beide lande toe te laat om die grenspos tussen Namibië en Botswana sonder ’n paspoort oor te steek.

Die regering van Botswana het reeds Maandag amptelik dié verwikkeling aangekondig. In die verklaring sê die buurland se regering dat Geingob en Masisi reeds in 2019 in gesprek getree het om die beweging van mense tussen Namibië en Botswana te vergemaklik.

Daar word verwag dat dié stap handel, reis en dienslewering sal bevorder.

Botswana sê die land sal ook ondersteuning bied met die toepassing van die Suid-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC)-verdrag wat ’n beroep doen op die vrye beweging van mense, goedere en dienste tussen lidlande.

Die Namibiese regering benadruk egter dat die gebruik van identiteitskaarte net tussen Botswana en Namibië van toepassing is, “en nog nie na ander SADC-lande nie,” volgens die ministerie se uitvoerende direkteur, Etienne Maritz.

Die nuwe identiteitskaarte is vir die doel geskik, weens ’n QR-kode op die kaart, en aangesien masjiene die kaarte kan skandeer.

Kalo moedig dus Namibiërs aan om so spoedig moontlik aansoek vir hul nuwe identiteitskaarte te doen. Dit kan in elke streek by die ministerie se kantore gedoen word, en nie net in Windhoek nie, sê sy.

“Sê vir die mense om te kom en aansoek te kom doen,” het Kalo gesê. “Alles is in plek om met die nuwe identiteitskaarte, en sonder ’n paspoort, reise na Botswana dadelik moontlik te maak,” het sy gister die versekering aan Republikein gegee.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.