Die oplossing vir verbossing en beter weiding is waarskynlik om ’n volhoubare balans tussen herbivore – bos- en grasvreters – op jou grond te handhaaf.
Vier navorsers, waaronder Morgan Hauptfleisch en Dirk Lohmann, het met behulp van ’n model bewys hoe die balansering van bos- en grasvreters nodig is om ekostelsels, biodiversiteit en die produktiwiteit van weiding te beskerm.
Science Direct het die navorsingsartikel “Balanced Functional Herbivore Composition Stabilizes Tree-Grass Coexistence and Productivity in a Simulated Savanna Rangeland Ecosystem” in Junie gepubliseer.
Die model se grense is opgestel uit data van Namibië se savannavlaktes in die Kunenestreek, net suid van die Etosha Nasionale Park, wat deur mopaniebome oorheers word.
Volgens die resultate blyk dit dat weidingsbestuur net suksesvol kan wees as die samewerking van herbivore, die klimaat, brande en die dinamika van die plantegroei in ag geneem word.
BALANS
Volgens die model bly die aantal bome relatief stabiel in scenario’s waar 40% van diere boseters is.
In gevalle waar 0% of 80% bosvretende diere in ’n gebied voorgekom het, het die bedekking van bome onderskeidelik verhoog of verminder.
Grasbedekking werk egter omgekeerd: Waar min bosvretende diere voorkom, het die aantal bome skerp toegeneem, terwyl grasbedekking verswak het. ’n Tekort aan bos- en boomvreters veroorsaak dus verbossing, met bome en bosse wat teen gemiddeld 39% oor 50 jaar toegeneem het.
Daarteenoor het die bedekking van bome met 16% oor 50 jaar afgeneem in plekke waar ’n hoë aantal bosvreters voorgekom het.
Die landskap stabiliseer, of bly soos dit aanvanklik was, in gevallle waar 40% tot 70% van die herbivore op ’n stuk grond bosvreters is, het die navorsers bevind.
Die model het ’n bestokkingsyfer van 20 tot 40 ha per lewendehawe-eenheid gebruik.
BRANDE
Brande word vereenselwig met kolle waar minder bome voorkom, terwyl die aantal boseters ook ’n invloed het op hoe groot die gebied brand en hoe gereeld brande voorkom, volgens die model.
In gevalle waar daar sowat 40% tot 60% boseters onder die herbivore was, het daar gemiddeld 1 500 ha gebrand. In scenario’s waar 20% tot 60% herbivore boseters was, het ’n brand gemiddeld elke drie tot vier jaar voorgekom.
Dit kom daarop neer dat beide herbivore asook vuur die boombedekking in ’n gegewe gebied bepaal.
GEVOLGE
Die navorsers sê tans hou boere hoofsaaklik grasvreters – beeste – aan, wat ’n beduidende verskuiwing in die funksionele samestelling van bosvretende herbivore beteken teenoor historiese samestellings. Die beeste eet of beide bosse en gras of bykans uitsluitlik net gras.
“Ons simulasies dui aan dat so ’n verandering in die samestelling van herbivore die potensiaal het om wyverspreide ‘oorbeweiding’ te veroorsaak.
“Die gevolge hiervan vir savannagebiede is ’n verlies aan meerjarige grassoorte, wat dikwels gepaard gaan met verbossing en ’n verlies aan beskerming teen erosie, biodiversiteit en die aanvul van ondergrondse waterbronne. Dit kom ten spyte van boere se pogings om verbossing teen te werk deur beheerde brande, chemiese bosbeheer of die oes van hout.
“Ons resultate dui daarop dat die teenwoordigheid van sowat 40% bosvreters onder herbivore op ’n gegewe grond die historiese, natuurlike samestelling van wild in die streek naboots. Dit voorkom die agteruitgang van savanna-tipegebiede in die Suider-Afrikaanse weidingstelsel,” het die wetenskaplikes gesê.
Dit blyk dat hierdie bevinding nie net waar is vir Afrika se savanna-vlaktes nie, maar ook binne ander ekostelsels en weidingsgebiede wêreldwyd.
Die wetenskaplikes sê sover dit bekend is, is hul model die eerste om die stabiliteit van ’n ekostelsel met al hierdie faktore te ontleed.
[Bron – Republikein]