Die winsgewendheid van speenkalfproduksie het die afgelope tyd soveel gedaal dat boere tans verliese ervaar.

“Speenkalfproduksie is tans nie werklik winsgewend nie – ons is in die rooi. Die winsgewendheid hiervan is erg wisselvallig. Daarteenoor is die winsgewendheid van ’n koei-os-produksiestelsel meer stabiel, met ’n laer risiko vir droogte.”

Só het Berta Ijambo, ’n navorser verbonde aan die Namibië Landbou-unie (NLU), die afgelope Saterdag aan beesboere teenwoordig by die Kamab Simbra-beesinligtingsdag gesê. Dit is op die plaas Neu Otjisauono aangebied, wat aan Diethelm Metzger en sy familie behoort.

As die speenkalfprys as ’n persentasie van die slagprys uitgedruk word, staan dit tans op 40%. Dit moet sowat 60% wees om dit die mees winsgewende produksiestelsel te maak.

“Die prys van uitgawes styg voortdurend. As ons 2020 as ’n basisjaar gebruik, het uitgawes met 31% toegeneem. Daarteenoor het speenkalfpryse met 15% geval terwyl slagpryse skaars verbeter het,” het Ijambo verduidelik.

Sy sê dit is noodsaaklik dat beesboere soos akkerbouers begin dink – naamlik hoeveel hulle per hektaar produseer en wat die beste wins gelewer het.

FAKTORE

“Ons het internasionale inflasie ervaar as gevolg van byvoorbeeld die Covid-19 pandemie, die oorlog tussen Rusland en Oekraïne, die verswakking van die wisselkoers, swakker verbruikerskoopkrag, hoë energiekoste, verminderde uitleenkoerse en speenkalfpryse wat erg gedaal het,” het Ijambo gesê.

“Daarbenewens het ons vanjaar droogte in sommige dele van die land ervaar, wat tot noodverkope van beeste in sekere dele gelei het. Dit het die beesprys geraak,” het sy gesê.

Verlede jaar was landbou-inflasie meer as 15% tydens die eerste kwartaal van die jaar en sowat 19,2% in die tweede kwartaal. Vanjaar was daar egter ’n klein verlaging in die koers en het dit in die eerste kwartaal op 8,7% te staan gekom teenoor 2,8% tydens die tweede kwartaal van die jaar.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.