Meatco se uitvoerende hoof, Mwilima Mushokobanji, het onlangs ’n beroep op die regering gedoen om met behulp van beleidmaking tot Meatco se redding te kom, wat weens sy krimpende markaandeel teen ’n verlies werk.

Mushokobanji is van mening as die staat die uitvoer van lewende diere na Suid-Afrika beheer, die plaaslike beskikbaarheid van slagdiere kan verbeter.

Hy sê alhoewel Namibië genoeg beeste het, werk Meatco tans teen ’n verlies omdat sy abattoirs nie ten volle operasioneel is nie. Hy skryf dit daaraan toe dat ’n groeiende aantal diere die land lewend tydens uitvoere verlaat – veral na Suid-Afrika.

Hy het dié opmerkings onlangs aan die parlement se staande komitee oor ekonomie en staatsadministrasie gemaak, toe hy die komitee moes inlig oor Meatco se bedrywighede, die vordering wat die entiteit maak, asook uitdagings wat dit in die gesig staan.

“Ons stel nie voor dat die grense vir uitvoere gesluit moet word nie, maar ons vra dat die regering in voerkrale, groenskemas en produsente belê, sodat veevoer geproduseer kan word.

“Tans moet ons veevoer van Zambië en Suid-Afrika invoer, wat die bedryfskoste vir beide die boer en Meatco opstoot, het Mushokobanji gesê.

Hy het verduidelik Meatco moet 66 000 beeste slag om gelyk te breek.

“Ons het die Windhoek-abattoir wat meer as 120 000 beeste per jaar kan slag, maar oor die afgelope twee jaar het ons net sowat 33 000 beeste geslag.

“Ons het meer as 2,5 miljoen beeste in die land. Terselfdertyd word meer as 200 000 beeste op die hoef, na Suid-Afrika uitgevoer.

“Meatco moes vyf jaar gelede reeds sy abattoir op Okahandja sluit weens uitdagings met deurset. Die Oshakati-abattoir is toe, Rundu se abattoir sal binnekort open en die Katima Mulilo-abattoir is oop,” het Mushokobanji gesê.

Waar Meatco vantevore ’n monopolie in die land geniet het, besit dit tans net sowat 15% van die markaandeel, met 58% van die mark wat vir lewende uitvoere gaan en die oorblywende 27% wat deur private entiteite soos Beefcor en ander besit word.

Mushokobanji het gesê buiten dat goedkoop voer nie beskikbaar is nie, gaan die bedryf gebuk onder hoë insetkoste as gevolg van droogtes, die uitbreking van dieresiektes asook ander faktore.

Hy het ’n beroep op die regering gedoen om die kabinetsbesluit van 2010 te heroorweeg oor die toekenning en benutting van die Noorweegse beesvleiskwota, sodat dit opnuut in ooreenstemming met strategiese nasionale ontwikkelingsprioriteite gebring kan word, die uitvoere van lewende beeste beheer kan word en die beskikbaarheid van slagdiere kan verbeter.

Ander voorstelle wat hy gemaak het, sluit in dat regeringsplase beskikbaar gestel word vir die teel van speenkalwers, die marktoegang vir lewende hawe noord van die veterinêre kordonheing verbeter word, asook begrotingsondersteuning vir Meatco se bedrywighede.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.