Ellanie Smit – Beesvleisuitvoere weerspieël die verhoogde verslagtingsyfers wat tydens die tweede kwartaal van vanjaar by uitvoer-abattoirs waargeneem is en het 5 039 ton beloop – 38,8% hoër as die 3 630 ton wat in die ooreenstemmende 2022-tydperk aangeteken is.

Boonop sal die Rundu-abattoir na verwagting in die komende maande sy bedrywighede hervat. Dit volgens het die Vleisraad van Namibië se jongste statistiese verslag.

“Dit sal as ’n bykomende bemarkingstroom vir die Noorde-boere dien wat onbedoeld beesvleisuitvoere na streekmarkte sal komplementeer.”

Luidens die verslag het slagplase wat vir uitvoer goedgekeur is die afgelope paar maande hul aanbod van beesvleis in die binnelandse mark vergroot – wat die volumes beesvleis wat die land binnekom, veral vleisafvalprodukte, verminder het.

Gedurende die betrokke kwartaal het beesvleisinvoere met 52,4% afgeneem – van die 547 ton wat gedurende 2022 ingevoer is tot 260 ton vanjaar.

Hierdie invoersyfers het slegs uit afval en ingemaakte (geblikte) beesvleis bestaan, wat onderskeidelik 23,8 % en 76,5% van alle beesvleisinvoer uitmaak.

“Die beesvleis-handelsbalans het in 2023 met 4 799 ton verbeter, wat ’n beter posisie in terme van handelsbalans toon as gevolg van verhoogde produksie en uitvoer van beesvleis.”

Volgens die Vleisraad is altesaam 78 212 beeste gedurende die tweede kwartaal vanjaar bemark, ’n toename van 8% vanaf 2022 se bemarkingsyfers.

Die verhouding tussen lewende uitvoere en slagting in die land het verbeter met 53% van alle beeste wat by A-, B- en C-klas-abattoirs geslag is, terwyl die lewende uitvoermarkaandeel verminder het en gemiddeld 47% was.

Dit is ’n afname van 5,9% in totale bemarking, het die Vleisraad gesê.

“Bemarkingstekens blyk goed te funksioneer in die vee- en vleisbedryf aangesien produsente goed gereageer het op relatief aantreklike pryse wat A-klas abattoirs aangebied het.”

Die Vleisraad het gesê B2-produsentepryse betaal deur uitvoer-abattoirs suid van die veterinêre kordonheining het ’n gemiddeld van N$61,06 per kg gedurende die tweede kwartaal beloop, wat ’n verhoging van 0,5% is vanaf die gemiddeld van N$60,77 per kg wat in dieselfde tydperk verlede jaar betaal is.

Intussen het speenkalfpryse gedurende die tweede kwartaal van vanjaar gesukkel om te herstel en was gemiddeld N$24,97/kg.

Dit is ’n afname van 31,7% vergeleke met die 2022-syfers van N$36,58/kg.

“Die situasie word toegeskryf aan die afname in die Suid-Afrikaanse vraag na Namibiese speenkalwers, terwyl Suid-Afrikaanse speenkalwers aan die ander kant relatief hoë pryse gehaal het en gemiddeld N$32,05/kg was.”

Dit is N$7,08/kg hoër as Namibiese speenkalfpryse gedurende die tweede kwartaal van vanjaar.

“Die speenkalf/B2-produsenteprysverhouding het gedurende die kwartaal onder oorsig ’n algehele laagtepuntverhouding van 40.9% bereik vanaf die ideale 64%-maatstaf as gevolg van uiters lae speenkalfpryse wat in 2023 aangeteken is. Die handhawing van die 64%-verhouding sal lei tot die handhawing van balans in die bedryf tussen marksegmente,” het die Vleisraad gesê.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.