Dr. Ben Strohbach – Terwyl satellietbeeldmateriaal toon dat prosopisse oraloor vinnig versprei en inheemse plantegroei asook skaars ondergrondse waterbronne bedreig, het wetenskaplikes se benadering tot dié indringerplant nou verander.

Eerder as om dit te benut en verspreiding te probeer beperk, word daar nou aanbeveel dat hierdie indringerplant uitgeroei moet word.

Prosopis-bome is aanvanklik na Suider-Afrika (asook talle ander dorre gebiede van die wêreld) ingevoer omdat dit bestand teen droogtes is, as brandhout of hout vir ander doeleindes gebruik kan word en ook uiters voedsame peule produseer, wat as veevoer gebruik word.

Die prosopis-boom is inheems aan Mexiko, Suid-Amerika en die Karibiese Eilande.

DORS

Vroeër het studies vir die biologiese beheer van prosopis-bome gefokus om die sade of peule te beskadig, met die doel om verspreiding te verminder terwyl dit steeds die boom se nut as veevoer, skaduwee, hout, en brandhout behou.

Dit het egter nou verander.

Studies van ondergrondse water in Suid-Afrika wys dat dig-groeiende prosopisse grondwaterbronne tot ses keer vinniger uitput as natuurlike, beter verspreide inheemse bome.

Prosopis-bome het intussen veral in Namibië se droë of seisoenale rivierlope versprei, wat inheemse plantegroei bedreig en groot hoeveelhede grondwater gebruik – soveel so dat sommige seisoenale riviere, soos die Gibeon-rivier, moontlik heeltemal kan ophou vloei.

Tans kom vier subspesies van prosopisse in Namibië voor.

Prosopis-bome is suksesvol in Jemen en Niger beheer deur dit vir brandhout te oes.

In Namibië het navorsing in Gibeon egter getoon dat mense wat brandhout koop, plaaslike houtsoorte (hoofsaaklik akasia-tipes) bo prosopis-hout verkies.

’n Ander probleem wat tydens die proeflopie ontdek is, is die vermoë van prosopisse om weer “uit te loop” of groen lote uit afgesaagde stompe te groei. Daarbenewens is die verwydering van die stompe problematies, aangesien prosopisse goed ontwikkelde wortelstelsels het. Selfs jong bome is moeilik om te verwyder.

VERMY VERSPREIDING

Een van die vernaamste maniere hoe prosopis-bome sy saad versprei, is met behulp van dieremis. As boere steeds die peule as veevoer wil gebruik, maar verdere verspreiding van dié boom op hul grond wil voorkom, moet hulle die peule bymekaarmaak en fynmaak voor dit vir diere gevoer word.

Tot onlangs was die gebruik van boomdoders (boomgif) ook ’n opsie, maar die breëspektrum-onkruiddoders is nie selektief nie, wat beteken dit maak ook inheemse boomsoorte dood. Dit is ook wateroplosbaar, giftig vir visse en wild en potensieel karsinogenies vir mense.

Daarbenewens kan die chemikalieë van boomgif vir maande of selfs jare in die grond bly en ondergrondse water besoedel. Die gebruik van hierdie gifstowwe, hoe sorgvuldig dit ook al toegedien word, word nie aanbeveel nie.

BIOBEHEER

Die jongste navorsing dui daarop dat daar geen ander manier buiten biobeheer is om die stryd teen prosopisse te wen nie.

Namibië behoort ook te fokus op proewe om agente vir biobeheer te toets wat die boom se blaregroei beskadig en dieselfde uitwerking as plantdoders het – maar dit is net veiliger, alhoewel nie noodwendig vinniger nie.

Twee soorte kewertjies uit die Bruchidae-familie kan help met die biologiese beheer van prosopis-bome. Dit blyk dat die kewers, wat reeds goed in Suid-Afrika gevestig is, tot 75% van prosopisse in die buurland vernietig het. Hierdie manier van biobeheer is in die 1990’s in Namibië getoets, maar geen inligting is beskikbaar oor die resultate van dié proewe nie.

Onlangse navorsing het ons begrip van verskillende prosopis-variëteite verbeter en hulle in vier groepe verdeel.

Die prosopisse in Namibië val binne ’n nuwe genus genaamd Neltuna. Hierdie navorsing help dat beter geteikende en spesifieke agente vir die biobeheer van prosopisse benut kan word. Verskeie opsies blyk groot belofte in te hou.

BEDREIGING

Volgens ’n artikel deur Conservation Namibia is indringer- en uitheemse plante een van die vyf grootste bedreigings vir biodiversiteit.

Altesaam 38 boomsoorte of groot bosse, 62 blomplante en verskeie grassoorte word as uitheemse indringerplante in Namibië beskou. Hiervan hou 15 spesies ’n ernstige ekonomiese en ekologiese bedreiging in.

Die Botaniese Vereniging van Namibië neem die leiding as dit kom by die bestryding van indringerspesies in die land en het selfs ’n toep daarvoor ontwikkel.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.