Katharina Moser – Namibiërs wat hulself teen verskeie siektes wil laat inent, sal sonder sukses moet omdraai aangesien die land tans ’n reusetekort aan sekere entstowwe en medisyne ondervind. Verskeie private dokters het aan Republikein se susterkoerant Allgemeine Zeitung bevestig dit is reeds vir ’n geruime tyd onmoontlik om sekere entstowwe te bekom, wat insluit dié teen hepatitis A en ingewandskoors. Volgens die private dokters in Windhoek wat vir kommentaar genader is, word dit toegeskryf aan die feit dat die meerderheid entstowwe en ander mediese produkte uit Suid-Afrika ingevoer word waar produksie weens beurtkrag afgeneem het. Verskeie groot verskaffers in Namibië het gevolglik die verskaffing van sekere middels gestaak. Die voorsitter van die Mediese Vereniging van Namibië (MAN), dr. David Weber, het die “massiewe tekorte van baie entstowwe” by navraag bevestig. Volgens hom sluit die tekorte ook noodsaaklike medikasie soos dié vir kanker in. Weber het die tekorte toegeskryf aan die prosesse van die Namibiese Medisynebeheerraad (NMRC) wat veronderstel is om volgens hom die verskaffing van medikasie aan pasiënte in die land te bevorder, maar wat “deel van die uitdagings” is wat ervaar word.Weber sê die NMRC vereis dat alle medikasie deur ’n moeisame proses van Namibiese registrasie moet gaan. Namibië se aanvraag is ook ’n minimale gedeelte van die aanvraag in die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC) en selfs nog minder van dié in Afrika. “Die groot internasionale farmaseutiese maatskappye onttrek dus eenvoudig aan Namibië weens die omslagtige reguleringsproses. Plaaslike agentskappe moet nou die medikasie of middele aankoop wat nodig is,” het hy verduidelik. Volgens hom vererger dit die tekort aan farmaseutiese middels in Namibië wat baie verder as entstowwe strek.“Die NMRC-debakel veroorsaak dat baie van ons kankermedikasie en entstowwe nie geredelik vir Namibiërs beskikbaar is nie.”Die groot Namibiese farmaseutiese verskaffer Geka Pharma het by navraag gesê daar is wêreldwye beperkings op die vervaardiging en verspreiding van entstowwe.“Die rede vir die beperkings en gevolglike tekorte sluit verskeie faktore in,” het Nardia Coetzee, die besturende direkteur en apteker van Geka Pharma gesê.“Die hoofredes vir tekorte in Namibië is ’n verandering in verspreidingskanale, meeste entstowwe word uit Europa ingevoer, ’n groter aanvraag, probleme met vervaardiging en produksie, insluitend produksie-onderbrekings en onvoldoende voorraad. Die vervaardigers poog om immunisering in Namibië te ondersteun deur toegang tot sleutel-entstowwe te verskaf,” het Coetzee verduidelik. Die woordvoerder van die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste, Walters Mashazi Kamaya, het egter by navraag gesê van die staat se kant is daar geen tekorte en geen krisis met betrekking tot entstowwe nie. Volgens hom is daar “soveel materiaal beskikbaar as wat bestel is”. Op ’n vraag of elke Namibiër enige tyd by enige staatsdokter die entstof van sy keuse kan kry, insluitend verpligte immuniserings vir reisdoeleindes en wat geelkoors insluit, het Kamaya egter erken daar is “tans geen volledige dekking nie”.Hy het verwys na die ministerie se begrotingsbeperking wat volgens die wet vir openbare verkryging op N$25 miljoen vir aankope staan. Die ministerie kan gevolglik nie langtermynkontrakte sluit nie en dit moet deur die Sentrale Verkrygingsraad van Namibië (CPBN) gaan.“Weens die uitdagings in die toekenning van hierdie langtermynkontrakte deur die CPBN, het die ministerie stappe gedoen om die leemtes te vul en in korttermynbehoeftes te voorsien,” het Kamaya verduidelik. “Die korttermynmaatreëls – tot die CPBN die kontrakte finaliseer – het die ministerie in ’n ewigdurende siklus van noodaankope geplaas. Dit is nie kostedoeltreffend nie en is ’n uitdaging vir die beplanning van grootmaat-verskaffing. Oorweging word nou geskenk om vrystelling van die beperkings van die wet te kry om die ministerie in staat te stel om voldoende voorraad vir 12 maande aan te koop om die verskaffingsketting te stabiliseer.”Weber het op sy beurt verduidelik die ministerie volg riglyne van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO), met slegs ’n minimale hoeveelheid van al die entstowwe beskikbaar in die wêreld wat deel van die ministerie se protokol is. “Die ministerie sal dus min of geen tekorte hê nie weens die min immuniserings wat hulle wel gee.”

[Bron – Republikein]

Sign In

Register

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.