Die Namibië Landbou-unie (NLU) het sy “ondubbelsinnige” standpunt rakende grondhervorming en grondbelasting weer benadruk.

Dit volg ná onlangse mediaberigte oor grondbelasting heelwat openbare reaksie uitgelok het. NMH het berig wit manlike plaaseienaars is die enigste Namibiërs wat grondbelasting moet betaal en kan nie vir enige vrystelling aansoek doen nie

Die NLU sê in ‘n mediaverklaring dit erken die historiese ongelykheid rakende die besit van kommersiële landbougrond ten tyde van die land se onafhanklikheid. Die unie het destyds deelgeneem aan die formulering van die regering se grondhervormingsbeleid en ondersteun die implementering daarvan.

Volgens die NLU was dit al die jare ‘n voorstander van ‘n regverdige en ordelike proses van grondhervorming, met regverdige en bekostigbare grondbelasting.

“Gevolglik het ons geen beswaar teen die kwytskelding wat aan vroeër benadeelde individue verleen is nie en erken dat die betaling van grondbelasting as ‘n meganisme dien vir grondeienaars om finansieel by te dra tot grondverdeling op ‘n stelselmatige en vreedsame wyse.”

Al word die huidige grondbelastingwaardes as “regverdig en bekostigbaar beskou”, erken die NLU dat hierdie belasting ‘n impak op boere se winsgewendheid het, veral gedurende droogtetydperke.

“Weens die swak administrasie van grondbelasting, word boere nou gedwing om vier jaar se belasting in 2024 te vereffen.”

Die ministerie van landbou, water en grondhervorming het in ‘n onlangse openbare kennisgewing gesê dat grondbelastingaanslae vir alle kommersiële landbougrond vir die boekjare 2017/2018, 2018/2019, 2021/2022 en 2022/2023 op 29 November verlede jaar geplaas is.

Die openingsdatum vir aansoeke om vrystelling was 29 November 2023 en eindig op 31 Maart.

Die NLU beklemtoon dat die sukses van grondhervorming daarvan afhang dat begunstigdes die grond produktief en volhoubaar gebruik en tot die nasionale bruto binnelandse produk (BBP) bydra.

“Steeds toegewyd aan die regering se grondhervormingsproses, bly die NLU voortdurend betrokke by onderhandelinge en streef na ‘n wederkerig voordelige uitkoms vir die landbousektor. Boere bied steeds hul grond aan ter ondersteuning van die voortgesette grondhervormingsinisiatiewe,” lui die verklaring.

Voorts dring die NLU daarop aan dat die regering moet verseker dat herverdeelde landbougrond steeds voedsel produseer in ooreenstemming met die doelwitte van selfonderhoud, voedselsekerheid, en werkskepping.

“Grondhervorming kan slegs ‘n sukses wees as ontvangers die grond produktief, winsgewend en volhoubaar benut. Die organisasie onderneem steeds ‘n benadering van samewerking om hierdie doelwitte te bereik ter verbetering van landbou in die land.”

AGTERGROND

‘n Dokument wat deur Rudolf !Nanuseb, waardeerder-generaal by die ministerie van landbou, water en grondhervorming oor aansoekprosedures vir grondbelastingvrystelling uitgereik is, het hewige reaksie ontlok.

Vrystelling van grondbelasting sal volgens die dokument uitgereik word soos bepaal in terme van die grondhervormingswet en volgens die Namibiese Grondwet.

Volgens die dokument is Namibiërs wat in aanmerking kom om aansoek te doen vir die vrystelling van grondbelasting voorheen benadeelde Namibiërs, enige landbougrond wat gebruik word vir nie-winsgewende of winsgewende aktiwiteite van ‘n kerk, ‘n sending, ‘n hospitaal, ‘n skool of ‘n koshuis. Dit sluit ook landbougrond in wat hoofsaaklik gebruik word vir aktiwiteite van enige staatsondersteunde instelling soos omskryf in die verkoopsbelastingwet. Alle vroue ongeag van hul ras of kleur kan ook vir vrystelling aansoek doen.

!Nanuseb sê alle boere is aanspreeklik vir grondbelasting, behalwe dié wat vir vrystelling aansoek doen. Hy het bygevoeg buitelanders, ongeag hul ras of kleur, moet almal grondbelasting betaal, terwyl voorheen-benadeeldes wat verkies om by te dra, ook belasting op hul grond kan betaal.

Volgens !Nanuseb word alle aansoeke oorweeg.

Landbouminister Calle Schlettwein het aan Namibian Sun gesê grondbelasting moet gemeet word aan die hoeveel hektaar wat besit word, ongeag of die eienaar ‘n Namibiër of ‘n buitelander is. Hy het benadruk dat almal om vrystelling kan aansoek doen – selfs wit boere, maar erken dat grondbelasting hersien moet word.

“Die kanse is skraal dat ‘n wit manlike boer wat goedkeuring vir vrystelling kry, al is hul grond baie klein,” het hy gesê. – francoise@nmh.com.na

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.