Die twee Lombaard-broers wat die Golden Game-wildboerdery-, vang- en uitvoer­onderneming in Mariental gestig het, sal vandag in die landdroshof op Gobabis verskyn vir ’n formele aansoek om borgtog op aanklagte van die onwettige vang en vervoer van wild ter waarde van N$817 000.

Luidens die polisieverslag staan beide Johan en Kobus Lombaard tereg op aanklagte van die ­onwettige vervoer van wild of wildsvleis in­gevolge die natuurbewaringsordonnansie en vir die verkoop en aankoop van wild sonder ’n permit.

Hulle staar ook aanklagte in die gesig vir die verbloeming van die aard en beskrywing van ’n misdryf, die ­onwettige oorsprong van eiendom, vir hulp wat aan ’n ander verleen is om voordeel te trek uit die opbrengs van onwettige bedrywighede en vir die verkryging, besit of gebruik van die opbrengs van onwettige bedrywig­hede. Dit alles ingevolge die wet op die voorkoming van ­georganiseerde misdaad.

Nog ’n klag onder die natuurbewaringsordonnansie is vir die ­onwettige vervoer van wild sonder ’n permit en ook vir die gebruik van ’n voertuig en vliegtuig tydens die jag en vang van wild sonder ’n permit.

Na bewering het hulle op 30 Augustus omstreeks 19:00 by die plaas Reitz in die Leonardville-omgewing 28 blouwildebeeste en nege swartwildebeeste onwettig met voertuie gevang met die doel om die wild te verkoop.

Die verdagtes het toe glo die wild op voertuie gelaai wat na Mariental gery het. Daar het lede van die polisie se spesiale veldmag, Operation Revival, egter die voertuig deursoek as deel van ’n geheime operasie.

Vier verdagtes is in hegtenis geneem en formeel aangekla en het op 1 September in die Aranos-landdroshof verskyn, waar borgtog aan almal ­toegestaan is.

Die volgende dag is drie van die verdagtes – die 57-jarige Jan Antonie (Johan) Lombaard, die 54-jarige ­Johannes Jacobus (Kobus) Lombaard en die 49-jarige Rudie Kotze – egter weer gearresteer en het ’n hofbevel gekry om op 5 September weer in ­Leonardville te verskyn. Hier is hulle gister borgtog geweier.

Daar is op vyf selfone, twee wildsleepwaens, een vragmotor en een bakkie beslag gelê.

Sowat tien maande gelede is ook berig die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme ondersoek ’n prominente wildhandelaar, Johan, nadat hy na bewering twee witrenosters sonder die nodige papierwerk vervoer het.

Dié ondersoek is glo genoodsaak nadat Lombaard in ’n motorongeluk tussen Rehoboth en Kalkrand betrokke was terwyl hy ’n renosterkoei en haar kalf van Mariental na die plaas Uitkyk in die Karibib-distrik vervoer het.

Dié saak is glo steeds op die hofrol en is tot 16 Januarie volgende jaar uitgestel. Die ongeluk het sowat 50 kilometer voor Rehoboth plaasgevind.

Na wat verneem word het twee Land Cruisers met sleepwaens die renosterkoei en die kalf vervoer. Een van die bestuurders het beheer oor die voertuig verloor en dit het gerol, maar nie een van die renosters is beseer nie.

Daar is ook voorheen in 2017 berig dat hy nie die nodige permit gehad het om olifante te vervoer wat by ’n plaas in die Grootfontein-omgewing gevang is nie en dat sy plaas nie deur die omgewingsministerie goedgekeur is vir die aanhou van olifante nie.

Ons susterkoerant Namibian Sun het Johan om kommentaar probeer kontak, maar hy het nie die oproepe beantwoord nie.

Golden Game is die eienaars van die Robinson R-44 ligte helikopter wat onlangs tydens ’n toetsvlug op Swakopmund neergestort het en die lewens van twee Namibiërs, Jacques Jacobs and Dirk von Weidts, geëis het. Dié ondersoek duur steeds voort.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.