“Die implementering van die Reël 121-bevel sal bloot beteken dat Menzies dadelik kan aandag gee aan die verspreiding van die vrag wat die publiek so dringend benodig. Die NAC kan Menzies weer 30 dae kennis gee om te ontruim.”

So het Menzies Aviation Namibia gister in die hoërhof in Windhoek aangevoer in sy nuutste dringende aansoek om verlof om ’n uitspraak van 8 Augustus uit te voer terwyl ’n appèlaansoek steeds hangend is.

“Hierdie hof kan nie beslis dat Menzies na die Internasionale Lughawe Hosea Kutako (HKIA) moet terugkeer net om oënskynlik weer op ’n kennisgewing van die NAC te ontruim nie. Daar is boonop niks in die bevel wat die terugkeer na of die herstel van besit van die perseel aan Menzies magtig nie,” het die NAC aangevoer.

Die NAC het verder daarop gewys hy was geregtig om Menzies die perseel te laat ontruim, die adjunkbalju gemagtig was om hulle van die perseel te verwyder en regter Hannelie Prinsloo op 1 September in haar uitspraak beslis het dat die NAC se optrede wettig was.

“Menzies soek verligting wat, indien toegestaan, teenstrydig sal wees met twee uitsprake van die hoërhof en een uitspraak van die hooggeregshof.”

Paragon Investment Holdings, wat tans die grondhanteringsdienste by die lughawe lewer, beweer in sy hofstukke dat Menzies slegs sorg vir sy eie ekonomiese belange.

“Menzies se onwrikbare liefde vir en toewyding tot sy ekonomiese belang en sy onvermoë om die verlies van ’n openbare verkrygingstender te aanvaar, het dit tot ’n reekslitigant gedryf. Menzies bring aansoeke sonder die inagneming van gevestigde praktykreëls en met geen respek vir ander litigante se regte nie,” beweer Paragon.

VRAG

Ten opsigte van die magdom vrag wat reeds weke lank agter slot en grendel op die lughawe gestoor word, het Menzies verduidelik dat slegs hy dit kan hanteer omdat Paragon nie ’n kontrak met die koeriers of ontvangers het nie.

Die NAC het in sy hofstukke gesê die bevel van 8 Augustus kan gewysig word om Menzies “vir ’n beperkte tyd toegang tot die lughawe te gee vir die aflewering van daardie vrag aan ontvangers”.

‘PARAGON KAN BLY’

Menzies het in hofstukke voorgestel dat beide hy en Paragon dienste by die lughawe lewer “aan diegene wat van hul dienste gebruik wil maak”.

“Paragon hoef nie HKIA te verlaat nie. Die maatskappy kan sy wonderlike diens lewer – soos hy beweer hy doen – aan diegene wat van daardie wonderlike dienste gebruik wil maak.”

NAC LY SKADE

Die NAC beweer Menzies se “onredelike” optrede het “onnodige moeilikheid en koste” tot gevolg gehad en die maatskappy verder benadeel sal word as die hof Menzies sou toelaat om na die lughawe terug te keer.

“Die NAC se ooreenkoms met Paragon waarborg die NAC N$538 000 per maand, het ’n jaarlikse eskalasie van 11% en betaal 22% aan die NAC per maand (minus die gewaarborgde betaling). Die ooreenkoms met Menzies het die NAC slegs toegelaat om 12% van die maandelikse omset te ontvang.”

“Die NAC sal dus finansiële verliese ly, wat waarskynlik nie verhaalbaar is as Menzies na die lughawe sou terugkeer om grondhanteringsdienste te lewer nie.”

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.