Meatco is van mening dat die groot aantal beeste wat oor die afgelope tyd geslag is, die maatskappy van ondergang kan red.

Dit volg nadat die maatskappy in Mei en Junie goed presteer het en ’n inkomste van onderskeidelik N$107 miljoen en N$190 miljoen gegenereer het. Die maatskappy verwag ook om ’n wins vir Julie te toon.

Meatco het teen einde Julie altesaam sowat 38 401 beeste geslag, met 2 079 wat uit die Noordelike Kommunale gebied (NCA) kom. Die maatskappy hoop om tydens die 2023-’24-boekjaar altesaam 50 000 diere suid van die veterinêre kordonheining te slag asook ’n verdere 10 000 beeste in die NCA.

In ’n mediaverklaring wat gister deur die maatskappy uitgereik is, word gesê die verhoogde aantal beeste wat aan sy abattoir in Windhoek gelewer word, ’n beduidende omkeerpunt vir Meatco beteken.

“Meatco glo die voortsetting van die tendens sal waarskynlik tot ’n gekonsolideerde hersteljaar neerkom vir die boekjaar wat vanaf Januarie 2023 tot Februarie 2024 loop.”

Meatco het gesê hy is toegewyd daartoe om produsente betyds te betaal, terwyl dit verskaffers bestuur en betaal, met die oog daarop om opbrengste uit winsgewende nismarkte wat Namibië se premiesnitte ontvang, so groot as moontlik te hou.

VLEISRAAD

Meatco haal syfers deur die Vleisraad van Namibië aan, waarvolgens die plaaslike lewendehawe- en vleissektor sterk herstel getoon het.

Die groei is hoofsaaklik gedryf deur verhoogde uitvoere deur uitvoerabattoirs.

Hiervolgens het die nasionale bemarking van beeste met 8% gegroei, van 78 212 beeste dieselfde tyd verlede jaar. Daarbenewens het die verhouding tussen lewende uitvoere en verslagting met 53% verbeter. Die markaandeel van lewende uitvoere het met 5,9% verminder en op 47% te staan gekom.

Volgens Meatco kom dit nadat beesprodusente goed gereageer het op die relatiewe goeie pryse wat deur A-klas abattoirs aangebied word.

“Die Namibiese prys vir B2-graad vleis wat suid van die veterinêre kordonheining betaal word, was gemiddeld N$61,06/kg, ’n 0,5%-verhoging op verlede jaar se N$60,77/kg.

PRYSE EN GEWIG

Die gemiddelde slaggewig in Januarie was 250,3 kg, met ’n gemiddelde prys van N$58,84.

In Februarie het die gemiddelde slaggewig geklim na 259,96 kg, teenoor ’n gemiddelde slagprys van N$60,30. In Maart het die slagprys verder gestyg tot N$60,31, terwyl die gemiddelde slaggewig teruggesak het na 250,36 kg.

In April was die gemiddelde slagprys N$60,24 en die slaggewig 251,64 kg, terwyl die gemiddeldes in Mei op onderskeidelik 253,22 kg en N$59,67 per kg gestaan het. In Junie was die gemiddelde slaggewig 253,63 kg en die gemiddelde slagprys N$60,13.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.