Jemima Beukes – ’n Skoonmaker wat vir die staat werk moes tussen 2013 en 2018 altesaam N$36 498 aan inkomstebelasting opdok, terwyl ’n korporatiewe entiteit wat in dieselfde tydperk meer as N$926 miljoen gegenereer het, geen belasting betaal het nie, het die Namibië Inkomste-agentskap (NamRA) onthul.

In hofstukke het NamRA se hoof, kommissaris Sam Shivute, opgemerk dat die Chinese firma Zhong Mei Engineering Group geen belastingbetalings gedurende die tydperk onder oorsig gemaak het nie – ten spyte van staatstenders ter waarde van byna N$1 miljard wat aan die maatskappy toegeken is.

Die belastingagentskap het Zhong Mei onlangs geskok deur N$33 miljoen se hangende belasting direk van sy bankrekening af te trek.

Die maatskappy het NamRA sedertdien hof toe gesleep om die aftrekking terug te kry en word verteenwoordig deur die bekende prokureur Sisa Namandje.

GROOT UITDAGING

In sy beantwoordende beëdigde verklaring het Shivute gesê talle maatskappye gaan voort om belasting te ontduik.

In die 2022-’23-boekjaar het korporatiewe inkomstebelasting slegs N$8,1 miljard beloop vergeleke met die N$16,1 miljoen wat individue aan inkomstebelasting betaal het.

Volgens Shivute is daar ’n reuse-uitdaging in die Namibiese belastingstelsel met groot ongerymdhede waarmee NamRA tans te doen het.

“Daar is gevalle van die nienakoming van die belastingwette oor etlike jare, vals verklarings wat aan NamRA gemaak is oor inkomste en uitgawes, gevalle van bedrog en onbehoorlike belastingterugbetalings wat ontvang word.”

ONGELYK

“Die belastinglas leun geweldig na individuele belastingbetalers se kant toe. As voorbeeld noem ek gou dat ’n werknemer wat die pos van skoonmaker in die regering tussen 2013 en 2018 beklee het, tot op hede ’n bedrag van N$36 498 aan belasting betaal het, vergeleke met ’n korporatiewe entiteit wat betaalbare inkomste van N$926 577 037 gemaak en behou het vir die belastingtydperk van 2013 tot 2018 en geen belasting betaal het nie,” het hy gesê.

Shivute het groot kommer uitgespreek oor die wydverspreide versuim om belasting in Namibië te betaal en gesê die belastingnakomingskoers staan tans op net 48%.

Hy het benadruk die beginsels van ’n goeie of gesonde belastingstelsel dikteer billikheid, en dit beteken dat diegene in gelyke omstandighede ’n gelyke belastingbedrag moet betaal terwyl diegene met ’n hoër inkomste meer belasting moet betaal.

Hy het ook beklemtoon dat dit NamRA se doelwit is om ’n wêreldklas-inkomste-agentskap te word wat met passie dien om die bestaan van elke Namibiër positief te beïnvloed.

“Die algemene voldoeningskoers in Namibië staan op 48%, wat ’n wanbalans in belastinginvordering skep. Sommige betaal hul belasting soos vereis deur die wet, terwyl ander geen belasting betaal nie.

“Die huidige statistiek bevestig dat individue gedurende die 2022-’23-finansiële jaar dubbel die bedrag bygedra het wat maatskappye [in belasting] betaal het,” het hy gesê.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.