“Die kalf wat goeie gene het en ook goed versorg is, beteken N$1 800 per jaar méér in jou sak. Versorg jou bees, want jy sal N$2 tot N$3 méér per kg op ’n veiling verdien.”

Só gesels Piet Schrader, die eienaar van die veilingshuis Blaauwberg Auctioneers oor die versorging van beeste binne ’n goed ontwikkelde veeteelt-stelsel.

Schrader het meer as 35 jaar se ondervinding in die plaaslike veilingsbedryf en hy is optimisties oor die toekoms van Namibië se beesbedryf.

“Ek dink daar lê ’n blink toekoms voor, ook vir osproduksie, met al die nuwe markte en fabrieke wat kom.”

Terselfdertyd het veilingspryse die afgelope week weer die hoogte ingeskiet, met pryse so hoog as N$50 per kg wat vir tollies ligter as 131 kg betaal is.

Schrader sê iets so eenvoudig soos die bewerking van beeste, kan speenkalfprodusente help om meer vir hul diere te kry.

“Maak julle beeste mooi, bestee daardie ekstra sente, want dit kom terug na jou toe.

“In my persoonlike ervaring is daar ’n verskil in groei van tot 60 kg tussen ’n goeie kalf en ’n swak kalf in ’n jaar. Maal dit met N$30, dan is dit N$1 800,” het Schrader die afgelope Woensdag in ’n onderhoud met AgriMonitor gesê.

Hy sê die goeie pryse wat tans op veilings vir speenkalwers betaal word, is deels te danke aan die “tyd van die jaar” asook Namibië se goeie dieregesondheidstatus.

“Die grootste faktor is dat die Suid-Afrikaanse voerkrale nou koop. Hulle soek ons beeste, want hulle is gesond. Ons weet van die situasie met bek-en-klouseer in Suid-Afrika. Die voerkrale is bereid om ’n premie vir ons gesonde kalwers te betaal. Ons kan dankbaar wees vir die werk wat die land se veeartsenydienste doen – dis hoekom die pryse so hoog is vir die regte kalwers,” het hy gesê.

VERSORGING

Schrader sê die Suid-Afrikaanse voerkrale stel nie vereistes dat speenkalwers onthoorn of gekastreer moet wees nie.

Inteendeel, vir hulle is klein horinkies aanvaarbaar en hulle glo manlike hormone help die kalf om ietwat beter te groei.

“Die osboere en diegene wat egter kalwers koop en grootmaak vir die Namibiese slagbedryf, soek nie ’n bulkalf of een met horings nie. Vir ons is dit glad nie aanvaarbaar nie,” sê hy.

“Mense word ook nie gepenaliseer hiervoor nie, maar dit gebeur al meer dat kopers betáál vir ’n kalf wat ‘skoon’ of gekastreer is.”

Schrader sê om jou kalwers te versorg hou beslis finansiële voordele in.

“’n Mens kan sien as ’n verkoper se kalwers by ’n veiling inkom wat almal gekastreer en onthoring is, gaan daardie kalwers vir N$2 tot N$3 meer. Die koper weet hy kan net die kalwers koop en dalk een maal doseer en dan in die veld sit – en die bees groei,” sê Schrader.

Schrader sê hy persoonlik glo kalwers moet so jonk as moontlik bewerk word, want dan doen dit die minste skade en belemmer die kalf se groei minder.

“Dit is baie beter as ’n kalf van drie of ses maande oud onthoring en gekastreer word,” meen hy.

Die versorging van beeste gaan egter verder, met sekere inentings soos vir brucella wat verpligtend is.

“In die noorde van die land kry ons ook al hoe meer met knoppiesvelsiekte te doen. Inenting daarteen is nie verpligtend nie, maar as ons vlieë en muskiete met behulp van goeie dossering kan beheer – strek dit net tot voordeel van beide die kalf asook die produsent.

Oor brandmerke wat soms groot en lelik aangebring word, sê Schrader die ideaal is om die kalf onder sy penslyn te merk.

“Beesvelle is egter tans nie veel werd nie en daarom is daar nie tans so groot klem hierop nie,” het hy gesê.

Schrader beklemtoon mense behoort ook in ontbossing te belê.

“Dit is definitief die moeite werd. Dit maak jou beeste en vir jou gelukkig!”

[Bron – Republikein]

Sign In

Register

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.