Terwyl die Namibiese weerkantoor gedeeltelik bewolkte, maar snikhete warm weer asook enkele tot geïsoleerde donderbuie oor die noordoostelike en oostelike dele van die land gister voorspel het, waarsku weerkenners ernstig teen veldbrande.

“Die toestande vir goeie reënneerslae is nog nie gunstig nie,” het mnr. Johan van den Berg, ‘n onafhanklike landbouweerkundige, Dinsdag aan Republikein gesê.

“Daar kan eerder weerlig as reën in die volgende paar weke verwag word. Boonop word baie warm toestande oor die grootste dele van Namibië in die volgende paar weke verwag, met dagtemperature van meer as 35 °C,” sê hy.

REËN OP PAD

In dieselfde asem sê Van den Berg egter dat Namibië se beste reën nog op pad is.

“Op die langer termyn lyk dit asof Desember en Januarie gemiddelde tot bogemiddelde reënmaande vir Namibië kan wees – hoofsaaklik danksy die La Niña-weerverskynsel.”

Namibiërs gaan egter nog ‘n bietjie moet wag.

“Alhoewel daar tans ‘n bietjie tropiese vog oor Angola afbeweeg, is dit slegs oor die noordoostelike dele van Namibië waar enkele buie tans verwag kan word tot die einde van Oktober – dan sal dit ook ligte reën wees van minder as 5 mm,” het Van den Berg gesê.

“‘n Bietjie meer reën kan in die eerste week van November voorkom op plekke soos Grootfontein en Otavi, waar rondom 10 mm se reën moontlik is, maar baie min of geen reën verder suidwaarts nie,” het hy bygevoeg.

“Tans is die gevaar vir veldbrande egter baie hoog met die aanbreek van die donderweerseisoen. Baie brandbare materiaal wat erg droog is, skep die perfekte toestande vir brande indien weerlig sou voorkom.

Intussen het die Namibiese weerkantoor se reënmeters Dinsdagoggend om 08:00 sowat 7 mm op Oshikango, 6,2 mm reën by die Rundu-lughawe, asook 1 mm reën op onderskeidelik die Grootfontein-lughawe en Okapya gemeet. By Waterberg, op Otjiwarongo en Katima Mulilo het dit ook gereën, maar minder as 1 mm.

LA NIÑA

Van den Berg se goeie verwagtinge van die La Niña-toestande word deur ander weerkenners gerugsteun.

Die Australiese Buro vir Meteorologie sê La Niña-toestande duur steeds voort in die tropiese Stille Oseaan, met die meeste weermodelle wat voorspel dat neutrale ENSO-toestande weer vroeg volgende jaar kan intree.

Die buro voeg by dat die Indiese Oseaan-dipool (IOD) se negatiewe fase voortduur en na verwagting tot láát lente sal voortduur, voor dit weer vinnig kan verander.

Beide die faktore kan bydrae tot ‘n goeie somerreënseisoen in Suider-Afrika.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.