Daar moet onthou word dat die bul die belangrikste skakel in die ketting is vir die verkryging van die maksimum aantal kalwers in ‘n gegewe dekseisoen. Dit is dus logies om seker te maak dat bulle vrugbaar en dekbehendig is voor die dekseisoen, asook dat hulle aangepas is in hul omgewing.

‘n Paar wenke oor hoe om bulle voor te berei:
Toets bulle vir vrugbaarheid 2 maande voor die dekseisoen begin, omrede dit twee maande vir ‘n bul neem om gesonde, vrugbare sperm te ontwikkel. Daar moet onthou word dat ‘n subfertiele bul baie groot skade kan aanrig in die dekseisoen aangesien die bul moontlik dominant kan wees en dus die ander bulle weg kan hou van die koeie.

Sorg dat die bulle in ‘n goeie kondisie is voor die dekseisoen, maar nie oorvet nie. Oorvet bulle se saadkwaliteit is dikwels nie na wense nie a.g.v. vetaanpakking om die skrotum en hulle is ook nie so aktief nie.

Een volwasse bul kan 25-30 koeie dek in ‘n 3 maande dekseisoen. Jong bulle moet goed opgepas word in die dekseisoen en verkieslik nie meer as 20-25 koeie kry om te dek nie, aangesien hulle nog besig is om te groei.

Ent die bulle teen Campylobacter ( Vibrin) met ‘n dubbele dosis ten minste 3 maande voor die dekseisoen. Maak ook seker dat hulle ingespuit is teen Knopvelsiekte (Lumpyvax) aangesien dit ‘n siekte is wat hulle steriel kan maak. Toets bulle voor die dekseisoen vir Campylobacter en Trichomonas indien daar probleme met vrugbaarheid in die kudde is. Toets veral nuwe bulle wat ingekoop word en veral bulle wat reeds gewerk het in ander kuddes.

Daar moet onthou word dat enige koorsreaksie ‘n bul tydelik steriel kan maak en dat dit dikwels 2-3 maande neem vir so ‘n bul om weer saad van goeie kwaliteit te lewer.

Gee bulle die regte aanvullings teminste 2 maande voor die dek seisoen begin. Spoorminerale speel ‘n belangrike rol in die optimalisering van semenkwaliteit en –kwantiteit. (Multimin)

Met goeie beplanning en spesiale aandag aan bulle soos hier beskryf kan u verseker dat u boerdery winsgewend sal wees.
Alle die benodige entstowwe aangewys in die inligting stuk is beskikbaar by Cattle Country Veterinary Clinic. Kontak ons gerus vir meer inligting!

Dr Kallie Nel : 081 365 0215
Cattle Country Vet Clinic : 062 56 3957

[Bron – Cattle Country Veterinary Clinic]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.