Staatsamptenare sal moet klaarkom met ’n 3%-verhoging in die plek van die geteikende 9%-verhoging waarop hulle aangedring het, nadat hulle verlede naweek ten gunste van ’n staking gestem het.
Die ooreenkoms wat deur die Namibiese Vakbond vir Staatsdienswerkers (Napwu) en die Namibië Nasionale Onderwysersunie (Nantu) met die regering bereik is, beteken ook vervoertoelae word met 14% en behuising met 11% verhoog. Dit beteken die regering moet nou jaarliks N$924 miljoen meer as sy aanvanklike aanbod van N$334 miljoen opdok om staatsamptenare se salarisse en voordele te finansier.
Vakbonde wat werkers verteenwoordig, het aangedring op ’n 10%-verhoging deur die bank, ’n 25%-verhoging in die kwalifiserende bedrae vir behuisingsubsidies, ’n 9%-verhoging vir behuisingstoelaes, ’n 10%-verhoging in vervoer vir staatsamptenare onder bestuursvlak en ’n N$7 per kilometer tariefverhoging.
Vakbonde het toe hul aanvanklike aanbod gewysig en vir ’n 5%-verhoging gevra, wat nie deur die regering aanvaar is nie.
Die regering se personeelkoste beloop in die huidige begroting N$30,1 miljard teenoor die vorige boekjaar se N$29,6 miljard.
Napwu se sekretaris-generaal, mnr. Job Muniaro, sê salarisonderhandelinge het gewentel om gemeenskaplike grond te vind.
“Onderhandelinge gaan nie oor jou wat met ’n goue koppie gaan nie, jy gaan en onderhandel en wees bedagsaam in terme van waar ons onsself bevind,” het hy gesê.
’n Pluspunt is dat personeel wat die laagste in die regering betaal word, volgens Nevonga nou ’n regverdige deel van die ooreenkoms uit die pasafgelope onderhandelinge kry.
“Vir my is daar geen zero-persentasie nie. Wat my gelukkig maak, is dat die laerbetaalde werkers nou meer gaan verdien,” het hy gesê. Volgens Nevonga is die bedrag waarop ooreengekom is, vasgestel met die doel om die dooiepunt tussen die werkers en die regering op te los.
“Ons het na dié syfer gekyk met die algemene doel om ’n oplossing vir die dispuut te bereik.” Dit beteken ’n N$581 miljoen-verhoging in salarisaanpassings en voordele vir staatsamptenare.
Die arbeidskenner, mnr. Herbert Jauch, sê die vakbonde sal met hulle lede oor die 3%-verhoging moet konsulteer. Volgens hom is die verhoging laag.
“Oor die algemeen is die verhoging nogal laag. Hopelik was daar ’n duidelike mandaat om die ooreenkoms te teken,” het hy gesê. Die akademikus Joseph Diescho het vrae gehad oor die terugdatering van die verhogings tot 1 April vanjaar en nie vir ’n gedeelte van die tydperk waarin hulle geen verhogings gekry het nie.
“Ons is aanvanklik laat glo die hoofrede vir staatsamptenare se ongelukkigheid is die feit dat hul salarisse vir meer as vyf jaar dieselfde gebly het, terwyl lewenskoste astronomies gestyg het,” het Diescho gesê.
“1 April 2022 is net vier maande terug. Nie vier of jaar terug nie. As ons dus ’n volgende keer oor ’n salarisaanpassing praat, moet die president net sy reise kanselleer en die leiers vir ete nooi,” het hy gesê.
Diescho sê vakbondleiers het verder van hul mandaat afgewyk om namens die werkers te baklei. Dit volg nadat Nevongo president Hage Geingob bedank het omdat hy sy reise na Jamaika en Kuba gekanselleer het omdat werkers ten gunste van ’n staking gestem het.
“Die mandaat was baie duidelik. As die vakbondleiers oortuig was omdat die president sy oorsese reise gekanselleer en die staking daarom nie meer nodig was nie, het hulle (leiers) ’n nuwe mandaat nodig gehad. Wanneer en hoe is daardie mandaat gegee?
“Noudat die dispuut oor is, kan die president weer reis en ophou leierskap voorsien? Ons het ’n vreemde vakbondkultuur in die ‘Land of the Brave’”, het hy gesê.
[Bron – Republikein]