Namibië se gebrek aan ’n junior primêre leesstelsel en min lees-, syfer- en rekenaarvaardighede in basiese onderwys, is van die sleutelkwessies wat tydens landswye konsultasies deur die ministerie van onderwys, kuns en kultuur geopper is.

Die hersiende leerplan het ook ’n gebrek aan ondernemings- en finansiële vaardighede, terwyl daar ook nie genoeg tegniese en gevorderde vlak (AS)-onderwysers is nie. Die tekort aan funksionele openbare en skoolbiblioteke is akuut; tradisionele kennis en talente word nie waardeer nie; en klaskamers, laboratoriums en werkswinkels benodig toerusting.

Volgens mnr. Mzingisi Gqwede van die ministerie blyk daar volgens die konsultasies ook nie ’n duidelike oorgang te wees van volwasse na formele onderrig nie.

Met verwysing na beroepsgerigte onderrig, was die meeste klagtes dat onderwysers nie oor die nodige vaardighede hiervoor beskik nie of onvoldoende opgelei is. Ook is daar ’n negatiewe siening oor loopbane in dié rigting.

In die geval van onderwysers het kopsere ingesluit ’n wanverhouding tussen die aanvraag en voorsiening van onderwysers, ’n gebrek aan gekwalifiseerde onderwysers vir leerlinge met spesiale behoeftes, onervare groentjies wat onderwysers vervang wat aftree, sowel as ’n gebrek aan behuising veral in landelike gebiede om gekwalifiseerde onderwysers te behou.

Leerlinge moet ook handboeke deel, skoolhoofde is oorlaai met onderrig en administratiewe pligte en baie tyd gaan verlore in die dissiplinering van leerlinge eerder as om dit aan onderrig te bestee.

Lewensvaardighede-onderwysers word oorweldig deur kommer oor geestesgesondheid en psigomaatskaplike kwessies en die sluiting van skole as gevolg van Covid-19 tesame met die verandering van die leerplan het onderrig gekniehalter.

Kommer is ook uitgespreek oor die gebrek aan infrastruktuur vir inligtingstegnologie (IT) sowel as IT-ondersteuning met een tegnikus in ’n streek met meer as 20 skole. Die betrokke ICT-beleid lyk wel goed op papier, maar is nie prakties nie.

Die toenemende morele verval onder jongmense wat wissel van alkohol- en dwelmmisbruik, boelie- en anti-sosiale gedrag sowel as tienerswangerskappe, is ook ’n reusebron van kommer. Ander kwessies sluit in skole wat verskillende prosesse vir registrasie en bevordering na die volgende graad gebruik, skoolmeisies se gebrek aan toegang tot gratis sanitêre doekies en onderwysers en ook gemeenskappe wat in die duister is oor die ministerie se beleid oor tienerswangerskappe.

Gqwede sê leerlinge uit gemarginaliseerde gemeenskappe soos vlugtelinge, kinders wat aan die hoof van ’n huishouding staan en ongedokumenteerde kinders, word ook nie goed genoeg deur die ministerie bedien nie.

Skoolmaaltye word nie deur die jaar verskaf nie en is ook nie voedsaam nie, terwyl talle skole nie veilige fisiese strukture of omheining het nie. Instandhoudingsplanne vir skole op streekvlak is gebrekkig en veral landelike skole het nie water vir opwas en skoolvoedingsprogramme of toilette nie.

Gqwede sê lewensvaardighede-onderwysers kry nie erkenning of ondersteuning nie en gemeenskappe raak nie by sleutelkwessies betrokke nie.

[Bron – Republikein]

Teken In


Registreer


Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.