Die meeste kommunale pluimveeboere wat van stelsels gebruik maak waar hoenders vrylik kan rondloop, is geneig om tydens die winter met siektes te doen te kry wat tot hoendervrektes lei.

Daarom is dit belangrik dat pluimveeboere nou voorbereidings tref om siektes onder hul pluimvee te voorkom en te behandel, sê AgriBank se tegniese adviseur, Hanks Saisai.

Saisai het op 20 Junie in ’n artikel oor kapasiteitsbou in landbou gesê verlede jaar het pluimveeboere meer vrektes onder hul hoenders tussen April en Augustus ervaar, wat daarop dui dat pluimvee meer vatbaar vir siektes in die winter is.

“Siektes onder hoenders word gewoonlik veroorsaak deur virusse, bakterieë of swamme, terwyl omgewingsfaktore soos uiterste temperature, swak luggehalte asook beserings en swak bestuurspraktyke ook bydraende faktore kan wees,” het Saisai verduidelik.

SIEKTES

Hy sê pluimvee soos hoenders, eende, tarentale en ander voëls kry dikwels siektes wat die asemhalingstelsel of neoplastiese stelsels aantas – of aan virussiektes. Tydens wintermaande is hulle ook meer vatbaar hiervoor.

Voorbeelde van siektes wat die asemhalingstelsel aantas, sluit in Coryza-verkoue asook aansteeklike brongitis. Neoplastiese siektes veroorsaak abnormale groei van pluimvee se vesels en sluit in Marek se siekte. Daarteenoor kan pluimvee ook virussiektes opdoen soos hoenderpokke of ’n aansteeklike bursale siekte, wat ook as Gumboro bekend staan.

SIMPTOME

Coryza-verkoue se simptome is onder meer dat pluimvee nies, hul oë kan toeswel en geel afskeidings vorm, terwyl diarree en vertraagde groei ook kan voorkom.

Diere met brongitis snak na hul asem as hulle gaap, kry afskeidings uit hul oë en neus en produseer minder eiers. In lêhoenders veroorsaak die siekte dat die gehalte van eierdoppe verswak, ’n waterige eierwit (albumen), deurmekaar vere asook nat ontlasting. Ander simptome sluit in dat hoenders minder eiers begin lê, gewig optel, diarree het en hard inasem – dit klink dikwels borrelrig of kraperig.

Pluimvee wat Gumboro onder lede het, bewe, hul vere mag deurmekaar vertoon, hulle eet swak en kan ontwater, bly gehurk sit, kom teneergedruk voor en kan ander hoenders se stertvere uitpluk.

Newcastle-siekte is ’n ernstige, sistematiese en noodlottige virussiekte wat gekenmerk word daaraan dat hoenders hoes, nies en hul monde “water” – of speeksel daaruit loop. Hulle kan hul vlerke laat hang en eindelik lam raak, wat daartoe lei dat hulle sukkel om te beweeg, hul nekke gedraai is en skielik vrek.

VOORSORG

Saisai sê siektes onder pluimvee kan beperk word deur goeie bestuurspraktyke, soos om sones vir biosekuriteit rondom hoenderhokke te vestig en seker te maak hoenderhokke is skoon en word in stand gehou. Dit kan die groei van virusse, bakterieë en swamme hokslaan.

“Siektes kan verder voorkom word deur by ’n gereelde inentingskalender te hou. ND Clone 30 is byvoorbeeld ’n entstof wat in water opgelos kan word om Newcastle-siekte te voorkom. IB Ma50 voorkom brongitis, Gumboro D78 voorkom Gumboro en Nobilis Coryza, wat ingeënt word, voorkom Coryza-verkoue.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.