“Ek het die omgee vir veral die rooi mense (San) van my ma en ouma geleer. Hulle het altyd ons kos en klere met al die ander mense se kinders gedeel,“ het me. Johanna Nakale (48) van die Okuua Nokupenduka Kindergarten (Val en Opstaan Kindergarten) in Gobabis se Herero Block gesê.

“Wanneer ek met ander kinders buite gespeel het en dit het tyd geword om te skep, het my ma altyd gevra waar my vriend is. As ek gesê het dat ek hulle terug na hul huise gestuur het, het sy gesê gaan roep daai kind en gee vir hom jou bord kos.

“Sy het wanneer ons by die skool was ons klere uitgedeel. As ons dan by die huis kom en vra waar ons rooi hemp is, dan sê sy: ‘Die ander kind het dit meer nodig gehad’. Sy het ook altyd meer vir die rooi mense wat hout insamel en vir geld verkoop het, betaal. Hulle vra tussen N$20 en N$30 per bondel. My ma het hulle altyd N$80 betaal. Dit is die omgee vir die mense wat ek van haar geleer het.”

Johanna het vetkoek en kapana verkoop. Sy het die honger San-kinders opgemerk en vir hulle gratis vetkoeke gegee.

“Later het ek gedink dit help tog nie om net vir hulle vetkoeke te gee nie. Ek moet ’n pot pap opsit sodat hulle genoeg kan eet en dit is hoe ek in 2016 die Val en Opstaan Kindergarten begin het.”

Sy het begin om 40 kinders op te pas en vir hulle drie maaltye per dag te gee. Vandag gee sy vir 71 kinders kos, het 35 in die kindergarten wat sy oppas en vyf kinders wat nou permanent by haar woon. Dit is bo en behalwe al die familie se kinders wat sy grootgemaak het en haar eie drie kinders.

“Ek wil hê elke kind wie se ma afgesterwe het, kan sê ons het nog ’n ma wat na ons kyk, wat ons versorg, omgee vir ons en ons lief het.”

Johanna het twee sinkhuise opgerig een vir die seuns om in te slaap en een vir die meisies.

“Ek wil nie dat die kinders gemors word nie. Ek wil na hulle kyk sodat hulle nie rondloop nie. Ek wil hê hulle moet leer sodat hulle vorentoe kan gaan en nie agteruit nie.”

Volgens Johanna is die nood onder die San-gemeenskap op Gobabis baie erg. Baie van die kinders kan nie skool toe gaan nie omdat hulle nie ’n geboortesertifikaat het nie of hulle ma’s is te arm om die skooluniform te bekostig.

“Baie van hulle is eenvoudig net te swak van die honger om skool toe te gaan. Honger onder die rooi mense is baie erg. Die mense het net niks in die huis om te eet nie, niemand in daardie huise eet nie. Baie van die ouers drink ook. Vroegoggend sien jy hulle by die drinkplekke. Die kinders word verwaarloos en gaan nie skool toe nie. Hulle bly net by die huis.”

Johanna het geld onder haar familie ingesamel sodat sy kos vir die San kan koop. Sy word ook deur verskeie organisasies en besighede op die dorp ondersteun. Baie van die San-vroue help haar veral om kos te kook.

“Ons sien baie kinders wat gebad en wie se klere gewas moet word. Ons gaan praat dan met die ma en bad die kind en was die klere. Ek werk en help veral die San, maar die laaste paar jare het die ander nasies ook bygekom. Nou help ek almal.”

Sy vertel van die Kavango-seun wat nie in die skool gebly het nie.

“As die onderwysers hom soek dan is hy by die dam en vangvis om te eet. Hy is nou een van die kinders wat by my bly omdat sy ma nie in Gobabis is nie. Hy kry nou kos by my en bly nou in die klas omdat hy nie meer vis hoef te vang nie.”

Sy het ook materiaal van ’n weldoener gekry en die San-vroue geleer om klere te maak.

“Hulle maak nou klere en dan verkoop ons dit. Ek hou klein bietjie van die geld om weer materiaal en gare en so te kan aankoop. Al die ander geld gaan na die vroue sodat hulle kos en skoene en so kan koop. Al die mense wat ek help, drink nie meer nie. Hulle het gedrink, maar dit is nou klaar. Hulle het geval en nou het hulle opgestaan en die regte pad gevat,” het Johanna gesê.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.