Landbou staar daagliks talle uitdagings in die gesig, insluitend prysverhogings, voedselsekuriteit en die impak van klimaatsverandering, asook die uitbreking van peste en siektes.
Prof. Yonas Bahta, wat verbonde is aan die departement van landbou-ekonomie by die Universiteit van die Vrystaat, sê kleinboere of bestaansboere wat ondersteuning tydens droogtes ontvang, vind dit makliker om hul welvaart te verbeter.
’n Studie waarin hy betrokke is, toon ook dat ekonomiese kapitaal asook maatskaplike, mense- en natuurkapitaal die vooruitgang en welvaart van kleinboere aansienlik beïnvloed.
Dit volgens die studie “The resilience of households to agricultural drought in the Northern Cape province of South Africa”.
Bahta se doel met die studie was drieledig, naamlik om die veerkragtigheid van huishoudings tydens landbou-droogtes te bepaal, asook die welstand van kleinboere se huishoudings en faktore te identifiseer wat hul veerkragtigheid en voedselsekuriteit tydens droogtes bepaal.
Hy het gevind net sowat 9% van kleinboere wat met vee boer, toon veerkragtigheid tydens droogtes. Volgens hom toon boere wat toegang het tot lenings, ondersteuning van die regering ontvang het of diegene wat deel is van koöperasies die meeste veerkragtigheid tydens droogtes.
As dit by voedselsekuriteit kom help bates, sosiale vangnette en aanpasbaarheid huishoudings die meeste. Daarteenoor raak klimaatsverandering huishoudings se veerkragtigheid die ergste.
Bahta het die afgelope drie jaar lank die veerkragtigheid van kleinboere tydens landboudroogtes bestudeer. Hy is oortuig daarvan dat veerkragtigheid – of boere se vermoë om vinnig te kan herstel as hulle uitdagings ervaar – noodsaaklik is.
Volgens hom behoort beide die veesektor vir kleinboere asook die agrivoedselbedryf veerkragtigheid te ontwikkel om doeltreffend aan te pas of te herstel ná ’n droogte of tydens tydperke van inflasie of as dit kom by onder meer mededingendheid en produksie.
[Bron – Republikein]