Sedert 2015 is meer as 2 400 verdagtes in hegtenis geneem vir wildstropery met die doel om die vleis te verkoop.

In hierdie sake is ’n skamele 33% van verdagtes al skuldig bevind, aangesien die regbank sukkel om by te hou met die afhandeling van sake.

Gevalle van wildstropery vir vleis het 46% uitgemaak van al die wildmisdade wat in 2022 aangemeld is.

Verlede jaar is altesaam 430 gevalle aangemeld, waarvan 200 met dié wildstropery verband gehou het.

Kameelperde, buffels, sebras, wildsbokke en vlakvarke is wildspesies wat vir vleis gestroop word.

Dit luidens die verslag oor wildbeskerming en wetstoepassing in Namibië vir 2022, wat gesê het baie ander diere word egter ook vir vleis gestroop – soos voëls, reptiele en ander soogdiere.

GROOT TOENAME

Daar was ’n groot toename in wildstropery vir vleis – van die 94 gevalle wat in 2018 aangemeld is tot 265 in 2019.

In 2020 is 219 gevalle aangemeld, wat die volgende jaar effens gedaal het tot 209.

Statistiek toon altesaam 404 verdagtes is verlede jaar in dié verband in hegtenis geneem, terwyl 89 verdagtes skuldig bevind is.

“Jaarlikse arrestasies teenoor die huidige skuldigbevindingsyfer dui daarop dat die baie hoë getal arrestasies die regbank se vermoë oorskry het om sake af te handel en oortreders skuldig te bevind,” lui die verslag.

“Van die 2 442 verdagtes wat sedert 2015 in hegtenis geneem is, is slegs 822 (33,7%) teen 15 Mei skuldig bevind.”

MOTIEWE

Luidens die verslag maak mense hulle vir twee hoofredes skuldig aan wildstropery.

Die eerste is armes in landelike gebiede wat hulle daartoe wend vir ’n lewensbestaan, en tweedens is daar misdadigers wat dit vir kommersiële gewin doen. Dit is glo nie altyd maklik om tussen die twee te onderskei nie.

“Ongeag die motiewe, stropery vir vleis is ’n enorme probleem, wat druk plaas op wildbevolkings en op wetstoepassing en die regbank wat verskeie sake moet hanteer,” lui die verslag.

Dit sê voorts die mark vir vleis van diere wat in Namibië gestroop is, is feitlik geheel en al plaaslik gebaseer, in skerp kontras met markte vir produkte van hoëwaarde spesies wat meestal in ander lande geleë is.

Die verslag het verder opgemerk dat Namibië in ’n goeie posisie is om die vraag te beïnvloed om die mark vir onwettige vleis te takel.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.