Die Namibië Landbou-unie (NLU), onder die vaandel van die Gesamentlike Misdaadvoorkomingsforum (JCPF), is besig om ’n toepassing (toep) te ontwikkel om uitgebreide inligting oor misdaad op plase te versamel.

Die NLU se Thinus Pretorius, voorts ook die unie se president, sê met behulp van die toep sal data versamel word oor watter tipe misdaad waar in die land plaasvind. Verder sal daar met behulp van die toep ook profiele opgestel word van onder meer ondersoekbeamptes en aanklaers wat met sake werk asook profiele van vermeende misdadigers.

“Ons kan moontlik profiele van misdadigers kry en hulle met behulp van kunsmatige intelligensie (KI) identifiseer. Ek is baie opgewonde oor hierdie ontwikkeling. Ons wil graag deel wees van die oplossing en heeltyd ’n tree voor misdaad bly,” het Pretorius gesê.

Hy sê individuele boere en teenmisdaadgroepe sit baie tyd en moeite in misdaadbestryding in.

“Ons word persoonlik blootgestel, daar word baie werksure hierin belê met sommige boere wat sê hulle moet tot 80% van hul tyd afstaan om misdaad te bestry. Dit vir ’n aksie wat die land se Grondwet waarborg die regering vir jou sal gee,” het hy gesê.

Hy het bygevoeg dat die forum vantevore ’n samewerkingsooreenkoms met die Namibiese polisie onderteken het en ook sy dank uitgespreek teenoor die polisie se inspekteur-generaal, Joseph Shikongo, van wie goeie ondersteuning ontvang word. Hy het ook gesê sowat 40 individuele misdaadbestrydingsforums word reeds onder die JCPF gekoördineer.

Intussen het Gunther Kahl, ’n boer uit die Kalkfeld-omgewing, aan die kongres gesê dat data oor diefstal op plase aan die NLU deurgegee moet word, sodat dit op ’n sentrale punt versamel en statistiek daaroor opgetrek kan word.

Volgens statistiek uit Kalkfeld se omgewing, wat voortdurend bygehou word, het vee- en wilddiefstal en die diefstal van sonpompe sedert Januarie vanjaar met soveel as 40% toegeneem. Skade sedert die begin van die jaar uit die gebied word op sowat N$2 miljoen beraam.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.