Swavet, ’n verskaffer van dieremedisyne in beide Suid-Afrika en Namibië, ondersoek tans die moontlikheid om ’n entstoffabriek in Namibië te vestig.

As alles volgens plan verloop, beplan die maatskappy om teen 2024 die eerste plaaslik vervaardigde entstowwe te begin verskaf, het Fritz Rexrodt, Swavet se besturende direkteur, gesê.

Hy het gister tydens die Lewendehaweprodusente-organisasie (LPO) se kongres in Windhoek gepraat.

Dit kom terwyl die landbousektore in Suider-Afrika ’n nypende tekort aan entstowwe ervaar, met net sowat vyf entstowwe uit 27 wat tans plaaslik beskikbaar is. Rexrodt sê hierdie is nie uitsonderlike behoeftes nie – net die gewone, roetine-entstowwe.

Dit word toegeskryf aan erge ondoeltreffendhede in entstofproduksie by Suid-Afrika se Onderstepoort Biologiese Produkte (OBP), met Namibië wat agter in die ry staan om hierdie entstowwe te ontvang.

Rexrodt sê tydens konsultasies met Namibiese owerhede, plaaslike academici en relevante rolspelers is hy met “oorweldigende entoesiasme” begroet.

Hy sê hy is in Maart deur kundiges op die gebied genader om ’n oplossing vir die tekort aan entstowwe te probeer bewerkstellig. Rexrodt, wat in Namibië gebore is, sê hy het gou besef dat Suid-Afrika nie die regte plek vir so ’n fasiliteit sal wees nie en gevolglik is daar toe op Namibië gefokus.

“Tans kan ek nog nie te veel oor die projek bekend maak nie. Verskeie prosesse is aan die gang en daar word selfs ’n vennootskap oorweeg omdat die bou van so ’n aanleg baie ingewikkeld is,” het Rexrodt gesê.

Hy het bygevoeg dat Namibië deel vorm van die Zazibona samewerkende prosedure vir die registrasie van medisyne (Zazibona Collaborative Procedure for Medicines Registration), wat beteken medisyne wat plaaslik geregistreer word, kan na die wyer Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC)-streek versprei word.

Rexrodt sê teen middel volgende jaar sal die pad vorentoe – wat die projek betref – baie duideliker wees.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.