“Dit is in ons eie belang dat grondhervorming ’n sukses is.

“Daarom rig ek opnuut ’n versoek vir goeie buurmanskap en mentorskap waar ons lede bure met hervestigde boere is. As my buurman hervestig is en onsuksesvol is, is ek die eerste wat daaronder ly.”

Só het die Namibië Landbou-unie (NLU) se uittredende president, Piet Gouws, gesê tydens die afgelope NLU-kongres wat op 4 Oktober in Windhoek gehou is.

Tydens die geleentheid is opgedateerde syfers oor grondbesit in Namibië gedeel.

Die statistiek kom uit die Namibië Landbou-unie se databasis oor grondbesit, “die enigste opgedateerde, betroubare databasis in die land waarop die regering swaar steun”, het Gouws gesê. Dit word gereeld met behulp van boereverenigings oraloor die land op datum gehou.

EERS SUKSES

“Grondhervorming bly altyd omstrede en ’n emosionele onderwerp. Ná 32 jaar glo ek ons kan rederlikerwys vrae vra en ’n evaluering doen van wat die mikpunt en doel van die proses was en wat vermag is,” het Gouws gesê.

“Dit is noodsaaklik dat ons hierdie databasis op datum kan hou en kan sê waar ons met grondhervorming staan sodat ons die beskuldigings dat ons ’n klein aantal mense is wat die grootste persentasie grond besit, kan teenstaan.

Daar is reeds altesaam meer as 3 miljoen ha se grond vir hervestiging toegeken en volgens Gouw is dit “van kardinale belang dat hierdie grond eers in produksie kom voor daar verder hervestig word”.

“Die NLU het nog altyd sy steun aan grondhervorming gegee, maar is van mening dat dit slegs suksesvol kan wees as hierdie boere suksesvol is en in die hoofstroom-ekonomie geïntegreer is. Hulle moet aan die waardeketting deelneem.”

STATISTIEK

Rina Hough, wat die NLU se gronddatabasis nougeset byhou, het verduidelik die hele Namibië is sowat 82,4 miljoen ha groot, met kommunale grond wat sowat 37% hiervan beslaan. Parke, gebiede met beperkte toegang en plaaslike owerhede neem ’n verdere 18% hiervan in beslag. Titelakte-grond, waarop kommersiële plase geleë is, neem sowat 46% in beslag.

“Net altesaam 68,7 miljoen ha van al die grond in die land is landbougrond. Sowat 38,4 miljoen ha (56%) is titelakte-grond en 44% of 30,4 miljoen ha hiervan is kommunale grond.

Voorheen benadeelde Namibiërs het oor die afgelope tien jaar hul besit van kommersiële landbougrond of titelakte-grond met meer as 1,1 miljoen ha gegroei. Terselfdertyd het grondbesit van titelakte-grond deur voorheen bevoordeeldes met sowat 1,2 miljoen ha gekrimp.

Voorheen bevoordeelde Namibiërs besit tans 40% van al die beskikbare landbougrond in Namibië, met kommunale boere wat 44% van alle beskikbare landbougrond besit, het sy gesê.

WETSWYSIGING

Gouws het ook gesê die NLU hou sy vinger op die pols as dit kom by die voorgestelde wetswysiging op die besit van landbougrond. Dienooreenkomstig het die NLU onlangs ’n regsmening aan die minister van landbou, water en grondhervorming verskaf toe daar in dié verband gesprekke gevoer is oor grondwaardering as dit by grondonteiening kom.

Die NLU word ook verteenwoordig op die regering se hervestigingsraad en die komitee wat die wetswysiging op grondbesit bespreek.

Hy het gewaarsku dat ’n verkiesingsjaar voorlê en politici dalk uitlatings oor grond sal maak, maar dat landbouers verantwoordelikheid aan die dag moet lê wanneer hulle op die uitlatings reageer.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.