Ellanie Smit – Ten spyte van die huidige varkvleistekort in Namibië weens die invoerverbod uit Suid-Afrika, bly die aantal amptelike varkvleisprodusente laag, wat veroorsaak dat kleinhandelaars en verwerkers hul voorraad van oorsese markte verkry.

Namibië het in Julie 337 853 kg varkvleis uit vyf lande ingevoer, met varksterte as die top-invoerproduk teen 75 000 kg.

Intussen het Namibië 4 990 kg varkvleisprodukte na twee lande uitgevoer, wat alles bevrore verwerkte varkvleis was.

Dit volgens die Vleisraad van Namibië se Monthly Market Watch-verslag, wat sê die aantal varke wat by plaaslike abattoirs geslag is, het in Julie met 8,75% toegeneem vergeleke met Junie se syfers van 3 646.

Dit is ook 16,73% hoër as in Julie 2022, toe 3 227 varke geslag is.

Die plafonprys vir plaaslike varkvleis bly vas op N$51,03/kg, terwyl die Suid-Afrikaanse prys tans op N$30,23/kg staan.

“Die plafonprys vir varkvleis is op N$51,03/kg vasgestel as ’n versagtingstrategie om die negatiewe uitwerking van die Rooivleis-abattoirvereniging (RMMA) se kwynende varkvleisprys teë te werk, die huidige maatstafprys vir die berekening van Namibië se plafonprys.”

Die Vleisraad het gesê die RMMA-prys het met slegs 3,03% gestyg vanaf die Junie-prysvlak van N$29,34/kg.

“Die styging in varkvleisprodusentepryse in Suid-Afrika is gekoppel aan ’n effense verligting in koste as gevolg van ’n verlaging in die intensiteit van beurtkrag en voerpryse, wat lei tot ’n effense kosteverligting regdeur die ketting.”

REKORDPRYSE

Die Vleisraad het verder gesê na verwagting sal varkvleispryse in die komende maande ietwat styg, tesame met rooivleispryse.

“Europese produsente se pryse bly op rekordhoë vlakke, met Pole wat die hoogste prys in Julie 2023 ontvang het. Alhoewel ’n effense daling in Poolse produsentepryse waargeneem is, staar die Europese Unie (EU) steeds voortgesette dalings in varkgetalle in die gesig.”

Luidens die verslag het die varkbevolking nie net oraloor Europa afgeneem nie, maar Pole het ook twee nuwe uitbrekings van Afrika-varkpes gedurende Julie 2023 aangemeld.

In Denemarke het produsentepryse gedurende Juliemaand van N$36,29/kg tot N$37,26/kg gestyg. Daarbenewens het Duitsland ook ’n toename in produsentepryse ervaar, aangedryf deur die afname in die varkvleisaanbod.

Die afname in die aanbod is te wyte aan die gebrek aan winsgewendheid wat boere in die gesig staar na aanleiding van toenemende voer- en brandstofkoste en die regulatoriese druk van die regering om beter boerderytoestande te handhaaf.

Die VSA se pryse het vanaf die Junie-prysvlak van N$38,60/kg tot N$41,01/kg in Julie toegeneem weens veranderinge in bemarkingstrategieë, waar produsente die aanbod beperk deur varke teen ligter gewigte as gewoonlik bemark in ’n poging om finansiële verliese te verminder.

Dit sal egter na verwagting later in die jaar verander.

Verder het Kanada verbeterde pryse vir produsente aangeteken, maar hulle ondervind steeds hoë koste wat produksie belemmer.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.