Sterk groei in Namibië se pluimveebedryf asook ingevoerde pluimveeprodukte noodsaak die dringende ontwikkeling van minimum standaarde vir die bedryf.

Die Pluimveeprodusentevereniging van Namibië (PPA) het dienooreenkomstig ’n versoek aan die Namibiese Instituut vir Standaarde (NSI) gerig om standaarde vir pluimveevleis en eiers te ontwikkel.

Dit aldus die Namibië Landbou-unie (NLU) se jongste nuusbrief.

’n Tegniese komitee is vir die braaikuikensubsektor gestig en sal voorts met ’n konsep vir standaarde vorendag kom. Wat standaarde vir eiers betref, het die NSI onlangs goedkeuring gegee vir ’n versoek vir standaarde deur die PPA.

Die beraamde groei van die pluimveebedryf, wat braaikuikens en die lêhoenderbedryf insluit, het in 2021 op N$1,2 miljard gestaan. Verlede jaar het dit groei van N$1,3 miljard getoon, wat ’n toename van sowat 8,9% is.

Die groei in waarde in die braaikuiken- en eiersubsektor word toegeskryf aan ’n 7,5% en 18,2% styging in pryse, terwyl braaikuikenproduksie vanaf 33 219 in 2021 tot 32 835 in 2022 gedaal het.

Lêhenne het in 2022 met 13,5% toegeneem, vanaf 497 717 in 2021 tot 565 000. Dit beteken daar is verlede jaar plaaslik 13,7 miljoen eiers geproduseer, teenoor 2021 se 12,1 miljoen eiers.

Eierproduksie sou na verwagting nog beter presteer het, as dit nie was dat sommige eierprodusente noodgedwonge eierproduksie met 50% tot 80% moes verminder en werknemers afdank as gevolg van die invoer van goedkoper hoendereiers nie.

Klein- en mediumgrootte ondernemings (SME’s) is ook getref en het kliënte verloor omdat die mark oorstroom is deur goedkoop ingevoerde eiers.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.