Meer as 100 000 staatsamptenare, insluitend onderwysers van staatskole oraloor die land, sal die week moet stem of hulle tot ’n staking sal oorgaan.

Die Namibiese Nasionale Onderwysersunie (Nantu), die Namibiese Vakbond vir Staatsdienswerkers (Napwu) en die regering het Vrydag gesamentlik die stemdatums as 28 en 29 Julie bevestig.

Volgens me. Loide Shaanika, sekretaris-generaal van Nantu, sal die vakbond se lede amptelik ingelig word van presies waar en wanneer hulle moet gaan stem.

Sy het ook bevestig dat die stem- en telproses twee dae sal neem en uitslae sal by die stempersele getel, en op streek- en nasionale vlak geverifieer word.

Die opleiding van stemgeregtigdes sal reeds vandag begin, volgens die kennisgewing.

Besonderhede vir die stemproses is Donderdag met die kantoor van die arbeidskommissaris uitgeklaar. Die partye het ooreengekom om die vorige stemdatums van 25 en 26 Julie tot vandeesweek uit te stel.

Dit om logistieke voorbereiding en die nodige mannekrag, materiaal en finansiering in plek te stel.

Die twee vakbonde sal die stemproses behartig met regeringsverteenwoordigers wat as toesighouers sal dien.

Die adjunk-sekretaris-generaal van die Staatsdiensunie van Namibië (PSUN), mnr. Ujama Kaahangoro, het sy lede en ondersteuners verlede week aangemoedig om deel te neem en oorweldigend vir ’n staking te stem.

PSUN is ’n onafhanklike vakbond – nie soos in Napwu se geval by Swapo geaffilieer nie. Napwu en Nantu onderhandel al jare lank met die regering vir salarisverhogings. Staatsamptenare het laas in 2017 salarisverhogings gekry.

Kaahangoro sê: “Die uitgangspunt van die regering dat daar nie geld is om salarisse vir werkers te verhoog nie, is onverdedigbaar, terwyl geld vermors en op onnodige uitgawes bestee word.”

Hy doen ’n beroep op “’n totale landswye stilstand, wat die moeder van alle stakings sal wees. Dis tyd vir werkers om saam te staan. Kom ons ontmoet die regering by die staking en ons wys hulle ons ontevredenheid en ons griewe deur ons gereedskap neer te sit tot aan ons eise voldoen word,” het hy gesê.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.