Die uitvoer van lewende hawe het op ’n maand-tot-maand basis met 37,43% gedaal vanaf 22 214 stuks vee wat in Augustus uitgevoer is tot net sowat 13 899 in September.

Hierdie vermindering word aan seisoenaliteit toegeskryf, alhoewel die afname sewe keer meer is as wat in 2022 ervaar is en ook dubbel dít wat in die droogtejaar van 2019 aangeteken is.

Dit aldus die Vleisraad van Namibië se maandelikse markstatistiekverslag, wat op Donderdag 19 Oktober vrygestel is.

In 2019 het die op-die-hoef uitvoere met net sowat 16,1% verminder. Dieselfde tendense kan waargeneem word by uitvoerabattoirs, waar verslagting met 2,37% afgeneem het van 11 662 stuks vee in Augustus tot 11385 in September.

Ten spyte van die seisoenale vermindering het die aantal beeste wat geslag is met 115,8% toegeneem in vergelyking met verlede jaar se syfers. Dit is egter steeds 13,77% minder as wat in die 2019-droogtejaar geslag is.

Terselfdertyd het abattoirpryse oor alle grade heen verminder, alhoewel dit steeds hoër as ’n jaar vantevore is.

SPEENKALWERS

Terselfdertyd het speenkalfpryse ook verder verminder. Volgens die Vleisraad is ’n maandelikse afname in speenkalfpryse van 10,83% waargeneem, met pryse wat verder getuimel het van N$27,07/kg tot N$24,11/kg in September.

In jare wat Namibië goeie reënneerslae ervaar het – soos in 2020, 2021 en 2022 – was daar ’n toename in pryse omdat boere speenkalwers toe eerder teruggehou het. Dit het die aanbod op plaaslike veilings verminder. In hierdie jare het pryse op ’n gemiddeld van N$36,49/kg gestaan. Dit beteken pryse het nou met soveel as 33,92% geval.

As dit vergelyk word met 2019 se pryse, is pryse tans ietwat beter (2,9%), teenoor 2019 se gemiddeld van N$23,43/kg.

Die Vleisraad is van mening dat pryse gedurende Oktober onder N$25/kg sal bly.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.