Ogone Tlhage – Die minister in die Suid-Afrikaanse presidensie verantwoordelik vir elektrisiteit, Kgosientsho Ramokgopa, sê sy land sal voortgaan om elektrisiteit aan Namibië te verskaf, ten spyte van beurtkrag wat in dié buurland toegepas word.

Ramokgopa het dié opmerking tydens ’n besoek aan Namibië gemaak. Die besoek het ten doel gehad om te bespreek hoe die twee buurlande met betrekking tot groen waterstof kan saamwerk.

“Julle het 100 megawatt (MW) wat bevestig is en ons sal voortgaan daarmee. Ons is vol vertroue en toegewyd in terme van die kwessie, ek dink nie julle moet slapelose nagte daaroor hê nie,” het Ramokgopa gesê.

Volgens hom is Eskom voortgeset besig om sy opwekkingskapasiteit by sy kragstasies oraloor Suid-Afrika te verbeter.

“Ons gaan voort om die betroubaarheid en doeltreffendheid van die eenhede te verbeter. Terwyl ek met jou praat, het ons van ’n historiese laagtepunt van 48% tot 60% beweeg en ons gaan voort om te verbeter,” het hy gesê.

Hy het beklemtoon Suid-Afrika het beduidende vooruitgang gemaak om sy kragtekorte te takel.

“Ons maak aansienlike vordering. Die intensiteit van beurtkrag – wat werklik ’n tegniese instrument is wat ons aanwend wanneer die vraag opwekking ver oorskry – en ons gebruik dit om die rooster te beskerm, dáárdie intensiteit begin afneem.

“Eerstens as gevolg van die vordering wat ons aan die opwekkingskant maak, registreer ons aansienlike vordering in die werkverrigting van die eenhede,” het Ramokgopa gesê.

Eskom is onder druk van die Suid-Afrikaanse publiek wat daarop aandring dat kragverskaffing aan kliënte buite die land se grense gestaak moet word in ’n poging om eerstens in die plaaslike behoefte te voorsien.

Soos ingevolge ooreenkomste voer NamPower 200 MW van Eskom en 100 MW van Zesco in.

“NamPower en Eskom het ’n kragvoorsieningsooreenkoms (PSA) onderteken wat gebaseer is op die goeie bilaterale verhoudinge tussen Namibië en Suid-Afrika. Danksy streeksamewerking wat gevestig is, kan rolspelers in die voorsiening van elektrisiteit in die streek ’n PSA aangaan, wat verleng kan word,” het NamPower gesê.

“Die bilaterale ooreenkoms met Eskom bestaan reeds vir dekades. Daar is bykomende opsies om deelnemers uit die Suid-Afrikaanse kragpoel (SAPP) vir bilaterale ooreenkomste te betrek,” het die plaaslike kragvoorsiener besê.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.