In ’n webinaar, wat die Instituut vir Openbare Beleidsnavorsing (IPPR) aangebied het, is die verpligte registrasie van SIM-kaarte en data-invordering kragtens die nuwe Wet op Kommunikasie van 2009 bespreek.

Die fokus was op die impak wat dié wet op die media, redakteurs en joernaliste sal hê. Die wet is aan die begin van die jaar in die Staatskoerant gepubliseer en sal op 1 Januarie 2023 in werking tree.

’n Gasspreker by die webinaar was mnr. Murray Hunter van alt.advisory, ’n organisasie wat toegewyd is aan raadgewende en navorsingsdienste, publieke reg en beleidsdienste, inligtingsregte, privaatheid en opkomende tegnologieë en innovasies.

Hy het gepraat uit ervaring met die Suid-Afrikaanse Wet op die Regulering van Onderskepping van Kommunikasie (Rica) en wat die instituut in sy navorsing gevind het.

Na sy mening verbloem die wet nie net die sekuriteitskwessie teen kuber- en alledaagse misdade nie.

Hy het verduidelik Namibië volg Suid-Afrika in baie regsake en dat die implementering van die wet nie deur ’n toesighoudende liggaam of ’n regter in die land dopgehou word nie.

Soos in Namibië, rapporteer die veiligheidsdiens slegs aan die president se kantoor en is dus onderhewig aan die president en/of die partyleierskap se luim en aan hul wense.

Hy meen die registrasie van SIM-kaarte is onwettig, aangesien artikel 13 van die Namibiese Grondwet ook ’n individu se privaatheid as ’n fundamentele reg waarborg.

Afdeling 1 bepaal, “niemand sal onderwerp word aan inmenging met die privaatheid van die huis, korrespondensie of kommunikasie nie, behalwe ingevolge die wet op beskerming van morele standaarde en gesondheid, voorkoming van misdaad en handhawing van openbare orde”.

VOORBEELD

Hy het ’n voorbeeld uit Suid-Afrika gegee.

Die fluitjieblaserplatform amaBhungane het ná ’n hofbeslissing in die hooggeregshof daarin geslaag om verskeie wetgewing te hersien.

Hulle het onder meer daarin geslaag om by te voeg dat mense wat gemonitor is agterna ingelig moet word; doeltreffende en onafhanklike toesighoudende liggame gestig moet word; en massa-monitering is as ongrondwetlik verklaar. Beleide moet ook vasgestel word oor hoe om kommunikasiedata te stoor, en die hantering en vernietiging daarvan.

Slegs een punt is nie oor besluit nie: Die waarborg of dié data tussen drie en vyf jaar geberg moet word.

Volgens die wet moet ’n groot hoeveelheid metadata deur die netwerkverskaffer gestoor word tydens toesig, soos onder meer die ligging, oproepduur, gekoppelde oproepe en gestoorde kontakte vanaf die foon en/of rekenaar.

Die inligting wat deur die registrasie van SIM-kaarte ingevorder word, vorm ’n redelik volledige prentjie (digitale voetspoor) van elke netwerkkliënt.

DIE MEDIA

Regerings oraloor die wêreld versamel groot hoeveelhede inligting en in die Afrika-konteks word dit meestal vir toesigdoeleindes gebruik.

Volgens navorsingsinstellings soos Privacy International word die inligting hoofsaaklik teen teenstanders van die staat en joernaliste wat teen die stelsel is, gebruik.

Hunter het ’n aantal redes verskaf waarom verpligte registrasie nadelig kan wees – veral vir joernaliste en mediagroepe.

Joernaliste en hul informante kan maklik gemonitor en opgespoor word; vertroulike en anonieme bronne is maklik identifiseerbaar; en fluitjieblasers kan moontlik “uitsterf”.

Alle telefoonkontakte van joernaliste sal ook onmiddellik identifiseerbaar en naspeurbaar wees, en die vertroue tussen joernalis en informant sal geskaad word en/of heeltemal verkrummel.

Die kantoor van die president sal dus die ingesamelde metadata soos hulle goeddink en arbitrêr vir hul agenda kan gebruik.

[Bron – Republikein]

Teken In


Registreer


Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.