Die voormalige landdros Walter (Rooies) Mostert se aansoek om vervolging vry te spring, is Vrydag in die hoërhof in Windhoek van die hand gewys.

Mostert het aangedring daar was verskeie onreëlmatighede in die Teenkorrupsiekommissie van Namibië (ACC) se ondersoek teen hom.

Hy beweer onder meer hy was onder die indruk dat hy ’n getuie en nie ’n verdagte was toe hy in Oktober 2015 ’n verklaring aan die ACC afgelê het nie.

Volgens Mostert wou die ondersoekende beamptes van die ACC hom sover kry om homself in sy verklaring te inkrimineer.

Mostert is in 2015 in hegtenis geneem op klagte wat verband hou met die teenkorrupsiewet en die wet op immigrasiebeheer, geldwassery, afpersing, bedrog en pogings tot regsverydeling.

Hy het glo saam met sy medebeskuldigdes Joyline Kambatuku, Eveline Meroro en Joram Salomo ’n Suid-Afrikaanse gesin gehelp om Namibiese identiteitskaarte onwettig te bekom. Hy is na bewering N$250 000 betaal.

Mostert het in November 2021 uit aanhouding ontsnap toe hy by die Auas Hill-hospitaal in die hoofstad mediese behandeling ontvang het. Hy is weer in Maart verlede jaar in die omgewing van Tses in hegtenis geneem.

Regter Orben Sibeya het nog nie die redes vir sy beslissing bekend gemaak nie.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.