Tussen Januarie en Oktober vanjaar is 74 gevalle van veediefstal by die Namibiese polisie in die Khomasstreek aangemeld, 225 in die Omahekestreek en 451 in Otjozondjupa.

Dit is ietwat minder as in Januarie tot Desember 2021, toe 77 veediefstal-gevalle in Khomas aangemeld is, 260 in Omaheke en 488 in Otjozondjupa.

Só het die Namibiese polisiehoof, inspekteur-generaal Joseph Shikongo, verlede Maandag gesê toe hy amptelik met boere by die Rooikraal Game Ranch by Omitara in die Omahekestreek vergader het.

Die vergadering was ’n opvolg op ’n ander een wat verlede jaar op 18 November by ’n skool op Gobabis plaasgevind het.

Shikongo word in landboukringe daarvoor gerespekteer dat hy ernstig is oor die bekamping van veediefstal en in Mei vanjaar daad by die woord gevoeg het toe hy amptenare na die Outjo-omgewing ontplooi het om vermeende vee- en wilddiewe vas te trek.

“Ek wil aan julle die versekering gee dat misdaad in die land oor die algemeen beheerbaar is. Tog raak misdade soos verkragting, rooftogte, geslagsgeweld en veediefstal ’n bron van kommer. Om dié rede doen Nampol ’n beroep op gemeenskapslede om die polisie te ondersteun in die stryd om die land te beveilig. . .” het hy gesê.

OPVOLG

“Sedert ons laaste vergadering op Gobabis, het ek boeregemeenskappe aangemoedig om by hul buurtwagte, vroue- en mansnetwerke aan te sluit en reserviste te word.

“Ek verneem van ’n betroubare bron dat die meeste boere by die Nossob-misdaadvoorkomingsforum aangesluit het, wat by die Gobabis-polisiekantoor geregistreer is en dus ook in die Witvlei- en Omitara-omgewing werksaam is.”

Shikongo het aan boere die versekering gegee die polisie is gereed om met belangegroepe uit verskillende agtergronde te werk en dat die samewerking deel van hul strategiese planne vorm.

“Die Namibiese polisie verwelkom die konsep van gemeenskapspolisiëring om misdaad in Namibië hok te slaan.

“Die onus rus op ons om veediefstal te voorkom. Ons kan hiermee help deur, volgens die wet, ons vee te brand en van oorplaatjies te voorsien, want ongemerkte vee skep skuiwergate as dit daarby kom om eienaarskap te bewys,” het hy gesê en boere ook aangemoedig om ten volle van die NamLits-stelsel vir die registrasie van hul diere gebruik te maak.

Hy sê die dokument wat tussen die polisie en die Namibië Landbou-unie (NLU) vir wedersydse samewerking onderteken is teen landelike misdaad, moet ernstig oorweeg word omdat dit verskeie gapings tussen landbouers en die polisie se werk sal oorbrug.

Hy het boere ook aangemoedig om van die jongste tegnologieë soos kameras, hommeltuie en radio-verbindings gebruik te maak om vee-diefstal te bekamp.

“Hou ook behoorlik rekord van jul werknemers, want hulle mag dalk verdagtes of getuies raak in polisieondersoeke,” het hy gesê.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.