’n Onlangse opname na opvattings van die regbank toon dat regspraktisyns reken die vlakke van korrupsie in die land het toegeneem, maar die algehele vertroue in die Namibiese regbank bly steeds sterk.

Een kommerwekkende bevinding sluit in dat die meerderheid regspraktisyns glo dat regters nie deurgaans op meriete aangewys word nie.

Die navorsers Eben de Klerk en Christie Keulder het in Oktober verlede jaar ’n studie oor die vertroue in die regbank en sterkte van die oppergesag van die gereg uitgevoer. Dis nie ’n openbare meningsopname nie, maar is gebaseer op die opinies van regspraktisyns.

“Dis ’n opname van kundiges, dit wil sê individue wat spesiale insig het op grond van hul opleiding en beroep in die dikwels tegniese wêreld van regsbeginsels, die regbank en die regstelsel,” word verduidelik.

“’n Onafhanklike, goed funksionerende regstelsel is een van die nodige institusionele komponente van enige demokrasie. ’n Bekwame, onafhanklike en onpartydige regbank is absoluut noodsaaklik om die Grondwet te handhaaf.

“Sonder ’n onpartydige en bevoegde regbank wat op ’n wyse presteer wat vertroue onder die publiek inboesem, is daar geen sinvolle demokrasie nie.”

Die studie se bevindinge is dat die meerderheid regspraktisyns baie vertroue in regters van die hoërhof en hooggeregshof in Namibië het.

Die studie toon ’n oorweldigende gros van regspraktisyns (80%) het vertroue in die regsbevoegdheid van hooggeregshofregters.

Met betrekking tot die hoërhof voel 56% dat regters bevoeg is. Slegs drie persent se siening is dat regters se regsbevoegheid in beide howe verdag is.

REGTERS GLO NIE OP MERIETE

AANGESTEL

Volgens die studie glo 46% van respondente nie dat alle regters op meriete aangestel word nie en 64% meen ander redes, byvoorbeeld persoonlike oortuigings of politieke motivering, beïnvloed die aanstelling van regters deur die Regsdienskommissie (JSC). Slegs 18% glo sulke invloede speel geen rol nie.

OMKOPERY

Volgens die opname word die volgende waargeneem as faktore wat die onafhanklikheid van die regbank kan beïnvloed: Persoonlike oortuigings; lojaliteit aan die regering; lojaliteit aan die regerende party; die Regsdienskommissie se mag en die waarskynlikheid dat regters omgekoop word.

Die studie toon dat regspraktisyns vertroue het in die hof wanneer dit by omkopery kom. Sowat 72% van respondente sê dis onwaarskynlik dat ’n regter omgekoop sal word en slegs 8% reken dis ’n waarskynlike werklikheid.

REGSKOSTE

Nog ’n kommerwekkende aspek is die bevinding dat hoë regskoste mense daarvan weerhou om howe te nader.

“’n Betekenisvolle deel van die respondente glo hoë regskoste is ’n struikelblok om howe te nader; 83% het saamgestem dat hoë regskoste mense daarvan weerhou om regstappe in die hoërhof te neem en 48% het gesê dat hulle in werklikheid kliënte teen litigasie afraai weens hoë regskoste,” lui die studie.

Volgens die studie glo die meerderheid regspraktisyns dat die sukses van ’n saak afhang van die regter wat aan die saak toegewys is. Altesame 51% se siening is dat ’n regter se persoonlike oortuigings die uitslag van ’n hooggeregshofsaak kan beïnvloed.

Hoewel die meerderheid respondente glo korrupsie in die land het “geweldig” toegeneem, is hulle van mening dat die korrupsievlak in die regbank oor die jare onveranderd gebly het.

[Bron – Republikein]

Teken In

Registreer

Reset Password

Please enter your username or email address, you will receive a link to create a new password via email.